Jona 1: 1-16
Jesus het deur sy Heilige Gees vir ons kosbare gawes gegee, maar hoe gebruik ek die Here se gawes in my daaglikse lewe? Kom ons leer vandag ’n belangrike les by Jona.
Die Here het vir Jona ’n opdrag gegee, maar hy wou dit nie doen nie. Die mense van Nineve, die Assiriërs, was die Israeliete se vyande. Nou wil die Here dat sy woord aan húlle verkondig moet word, dat húlle ook gered moet word? Dit was een te veel vir Jona! Nineve het na die ooste toe gelê, maar Jona seil met ’n skip na die weste toe. Hy gaan doelbewus in die teenoorgestelde rigting, weg van die Here af…
Is dit nie hoe ons ook partymaal optree nie? Die Here vra van my iets, maar ek gaan letterlik in die teenoorgestelde rigting. As gelowige weet ek wat reg is. Kom ons sê, ek weet wat is die regte bestemming. Ongelukkig kies ek nie altyd die regte pad wat my by daardie bestemming sal bring nie. Ek weet ons moet in vrede met mekaar saamleef, maar ek loop eerder die pad van rusie en onenigheid. Ek gaan mos nooit by die regte bestemming, by vrede kan uitkom nie! Ek is ernstig daaroor dat God geëer moet word in die samelewing, maar God het nie altyd die hoogste gesag in my eie lewe nie. Ek is ernstig oor barmhartigheid, maar ek deel nie altyd die vrugte van die Gees met mense rondom my nie. Kom ons onthou vandag: Dis nie my opinies en standpunte oor ’n geloofsaak wat van die wêreld ’n beter plek gaan maak nie, dis my optrede as gelowige. Dit was nie Jona se status of sy kennis nie, maar sy gehoorsaamheid wat Nineve gehelp het om tot inkeer te kom.
Gebed
Help my om gehoorsaam aan U te wees en naby aan U te leef. Om U te volg, is alreeds ’n tree in die regte rigting wat my by ’n goeie bestemming gaan uitbring. Amen.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust