Markus 4: 35-41
Daar is so paar dinge wat ons vir mekaar kan sê nadat ons die verhaal van Jesus wat die storm stilmaak gelees het:
Die eerste punt is dat die reistog Jesus se voorstel was. Dit is Hy wat die leiding neem en vir die dissipels sê wat volgende gaan gebeur.
Die tweede punt wat ons vir mekaar kan sê, is dat Jesus in die vorige paar hoofstukke van die evangelie volgens Markus baie bedrywig en besig was. Hy het siekes genees en Hy het oor die koninkryk van God gesels en die mense van dit vertel. Ja, Jesus het die vermoë gehad om groot groepe mense bymekaar te laat kom. Maar net so vinnig kon Jesus Homself afsonder wanneer dit nodig was om te bid of alleen te wees. Ons lees dit duidelik hier in Markus 4 waar Jesus na die oorkant toe wil vaar om die skare mense agter te laat. Maar alhoewel Hy die mense agter probeer los, wil hulle nie noodwendig vir Jesus en die dissipels uitlos nie.
Die derde punt is waar ons lees dat daar ander bote op die water saam met Jesus en die dissipels was. Hulle was nie alleen op die waters van die see nie.
Toe die hewige storm opkom, was dit nie meer net Jesus en sy dissipels wat op die water was nie, maar so ook al die ander mense wat in hul eie bote op die water was. Dit was nie net die dissipels wat bang en vol vrees was nie, maar so ook elke ander persoon op hul boot daardie aand.
Hy staan op voor die dissipels en al die gelowiges wat deur die storm se golwe rondgegooi word. Hy staan voor almal op en Hy spreek die storm sterk aan. Nie net spreek Hy die storm aan nie, maar die storm is gehoorsaam aan Jesus se woorde.
So ook verskyn die Here Jesus Christus vandag nog aan elkeen van ons as die redder en verlosser. Mag dit so wees dat ons Hom so sal ervaar.
Ds André Steinmann, Piet Potgieter