Johannes 14: 6
Ons vier vandag Hemelvaart en vandeesweek se dagstukkies het deurentyd oor Jesus se weggaan gehandel. Johannes 14 handel oor die Hemelvaart al word die term nie gebruik nie. Johannes 14 se beskrywing van Jesus se na-aardse bestaan fokus sterk op eenheid tussen Jesus en die Vader asook die voorbereiding van ’n plek vir die gelowiges. Daar is heelwat ander Hemelvaarttekste waar Jesus in die hemelse troonsaal aan God se regterhand sit. ’n Goeie voorbeeld is Hebreërs 8: 1: Die hoofsaak nou van wat ons sê, is: Ons het so ’n Hoëpriester wat aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele sit.
Die fokus is vereers op Johannes 14: 6: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Kom kyk kortliks na Jesus as die Weg, die Waarheid en die Lewe.
Wanneer Jesus sê Hy is die Weg, beteken dit nie net dat Hy vir ons ’n rigting wys nie. Hy ís self die pad. Om Jesus te volg, is om op ’n lewensreis te wees – ’n reis waarin ons Hom elke dag vertrou, volg en in Hom leef. Die Weg is nie ’n kortpad of ’n gemaklike snelweg nie. Dit is ’n pad van geloof, van liefde, van opoffering en hoop.
Waarheid in Bybelse terme is nie net iets wat jy weet nie, maar iets waarin jy deel. Jesus is die beliggaming van God se waarheid: Hy openbaar die Vader ten volle. As jy Jesus ken, ken jy die Vader. In hierdie era van fopnuus en verdraaide waardes is Jesus die finale maatstaf van wat werklik en reg is.
In Johannes word lewe altyd verbind met gemeenskap met God (Joh 17: 3): Lewe is nie net biologiese bestaan nie; ware lewe is om in verhouding met Christus te staan.
Sonder die Weg: weet ons nie waarheen ons gaan nie. Sonder die Waarheid: weet ons nie waarop om te vertrou nie. Sonder die Lewe: bestaan ons, maar leef ons nie werklik nie.
Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege