Romeine 8: 33-34

Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons (Rom 8: 34).

Die goeie nuus van die opstanding eindig nie by die leë graf nie. Christus leef én Hy regeer! Paulus herinner ons daaraan dat Jesus nie net opgestaan het nie, maar nou aan die regterhand van God sit en vir ons intree. Ons Verlosser is nie afwesig of passief nie – Hy is aktief betrokke by elkeen van sy kinders se lewe, elke dag.

In die geloof hou ons vas aan Christus se drieërlei amp: Hy is ons Profeet, Priester en Koning. As Profeet leer Hy ons die waarheid. As Priester het Hy versoening gedoen en pleit Hy nou vir ons. As Koning regeer Hy oor alle dinge. Oor die lewe van elkeen van sy kinders.

Wat ’n wonderlike troos: jy staan nie alleen nie. Jy is nie uitgelewer aan jou eie krag of besluite nie. Christus, wat die dood oorwin het, is aan die werk in en rondom ons. Wanneer jy moedeloos voel, of worstel met vrae, of daar spanning is, dan weet ons: Jesus leef en Hy tree vir ons in.

Niemand is en hoef volmaak te wees om genade te ontvang nie. Maar ons word genooi om saam onder Christus se heerskappy te leef: in gehoorsaamheid aan sy Woord, in gebed, en in vertroue op sy teenwoordigheid.

Wat beteken dit vir jou dat Jesus vir jou intree en regeer? Hoe verander dit hoe jy leef?

Gebed

Here Jesus, dankie dat U nie net opgestaan het nie, maar ook nou leef en regeer. Dankie dat U vir ons bid, selfs wanneer ons nie woorde het nie. Regeer oor ons lewens, ons besluite, ons woorde, en ons harte. Amen.

Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos