Psalm 18: 1-25

Aan die begin van die Psalm sê Dawid hoe lief hy die Here het. Aan die einde van die verse sê Dawid hoe lief God hóm het.

Dit is by die Here waar hy krag kry en veilig voel. Wanneer hy bedreig word wend hy hom tot die Here. God is die een wat tot sy hulp kom. Hy roep en roep en roep en roep om hulp na sy God.

Dit gebeur onder omstrede omstandighede wat hy met ryk beelde beskryf. Ons kan die bande van die dood sien as lang, dik toue wat vanaf Sheol, die dodereik onder die see, uitskiet en om Dawid se middel, arms en bene sirkel en vastrek. Dit maak knope wat hy nie kan losmaak nie en begin hom trek, sleep, aftrek.

God reageer. Hy hoor. Hy luister.

Dawid skets hierdie beeld van God waar Hy hom te hulp snel:

Die aarde skud. God is kwaad. In sy woede buig Hy die hemel oop. Hy vlieg met spoed en majesteit op ’n gerub. Gerubs is magtige hemelwesens wat God se heerlikheid, heiligheid en magtigheid uitbeeld (Esegiël; Openbaring).

God laat sy stem hoor in hael en weerlig. Die rook, verterende vuur en gloeiende kole wys op God se oordeel.

Duisternis, donkerte, donker water en wolkemassas. ’n Gloed, hael en weerligstrale. Dawid beskryf ’n verwoestende, onkeerbare storm. Die aanval word gerig op Dawid se vyande. God bulder op hulle met die orkaan van sy toorn met soveel krag dat die winde van sy asem die seebodem sigbaar maak.

God strek sy hand uit en gryp Dawid waar hy hulpeloos deur die doodsbande afgetrek word in die diep geweldige waters in. God lig hom uit, breek hom vry en laat Dawid behoue in vryheid uitgaan.

Is hierdie dramatiese beeld vergesog? Of eintlik akkuraat? Hoeveel keer het die Here nie vir u bewaar van gewisse skade nie? Snel God u nie juis te hulp en breek die bande van die dood deur Jesus se reddingsoffer op die kruis nie?

Ds Aniena Jansen van Rensburg, Leeudoringstad