Handelinge 2: 47
En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg (Hand 2: 47b).
Kom ons staan vir ’n oomblik stil en verwonder ons aan die vroeë Kerk van die eerste eeu se geheime sous vir eksponensiële groei. Wat was hulle suksesresep? Was dit hul onberispelike handelsmerk? Hul Instagram- en Facebook-teenwoordigheid? ’n Indrukwekkende vyf-stapplan met bypassende koffiebekers? Nee. Dit blyk dat dit… God was. Hy alleen!
Ja, hoe vreemd dit ook al klink, die vroeë gelowiges het nie ’n kerkkonsultant gehuur of ’n retreat in die Judese heuwels aangebied nie. Hulle het nie eers ’n kerkgebou gehad nie. Daar was geen traktate met preekreekse nie, en beslis geen parkeerwagte in weerkaatsbaadjies nie. En steeds, ten spyte van dit wat hulle nie gehad het nie het mense by die gemeente bly aansluit. Daagliks. Omdat die Here self blykbaar in beheer van lidmaatskap was. Stel jou dit voor.
Terwyl die dissipels gebid het, brood gebreek en die nagmaal bedien het, was God aan die voorpunt besig om die swaar werk te doen. Niemand het ’n Excell-sigblad gehad met mense se name, adresse en kontakbesonderhede nie. Petrus het nie ’n jaarverslag opgestel wat tydens ’n ringsvergadering behandel is nie.
God het eenvoudig mense tot die gemeente bygevoeg. Sonder bemarkingsplanne. Sonder foefies. Mense wat gered word, is bygevoeg, nie gewerf nie, nie gedwing nie, nie gelok deur die belofte van gratis melktertjies of kolwyntjies nie, maar gered. En nie net op spesiale Sondae of tydens herlewings met dramatiese orrelverwerkings nie – daagliks. Soos in, God-werk-selfs-op-Maandae-daagliks.
Miskien het ons die hele ding oorgekompliseer. Miskien wanneer die kerk getrou is – toegewy aan lering, gemeenskap, gebed en brood breek – stel God nogal baie daarin belang om dit te laat groei. Miskien was die hemel se kerkgroeiplan nog altyd minder oor foefies en planne en komitees; en meer oor ’n goddelike teenwoordigheid.
Ons is net hier om gemeenskap onder mekaar te hê en in verwondering te wees oor wat God doen.
Ds Dawie Jacobs, Emeritus