2 Korintiërs 1: 3-11

Dit is Hy wat ons uit so ’n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red (2 Kor 1: 10).

In 2 Korintiërs 1 gee Paulus ons ’n kosbare blik op hoe hoop ná ’n moeilike tyd versterk word naamlik deur God, gebed en gemeenskap.

Eerstens anker Paulus sy hoop in God. Hy sê in vers 10a: Dit is Hy wat ons uit so ’n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Paulus glo vas dat God se redding nie altyd beteken dat gevaar verdwyn nie, maar dat God krag gee om daarin te volhard. Te midde van sy eie magteloosheid leer Paulus om op God te vertrou. Hierdie hoop is nie oppervlakkig nie – dit is diep gewortel in die werklikheid dat God ons getrou bystaan, al gaan ons deur vuur.

Tweedens put Paulus hoop uit die gebede van ander gelowiges. Hy sê dat hulle gebede ’n seën van God bring. Wanneer jy weet ander dra jou in gebed, ervaar jy dat jy nie alleen dra nie. Gebed bou die liggaam van Christus op en gee nuwe moed in moeilike tye.

Derdens leer Paulus dat hoop groei wanneer ons betrokke raak by mekaar se swaarkry. In vers 7 sê hy: Net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het. Deur ander se pyn raak te sien en iets daaraan te doen, hoe klein ook al, kry ons eie lyding betekenis. Hierin lê ’n goddelike geheim: wanneer jy dien, word jy self versterk.

Dink terug aan tye toe God jou gedra het, toe gebede jou versterk het, en toe jy ander kon help. Dit is hoe hoop groei – deur herinnering, deur gebed, en deur liefdevolle diens.

’n Bekende teoloog het dit so verwoord: Hoop word gebore wanneer ’n mens bo sy eie wanhoop uitstyg deur betrokke te raak by die vreugde en pyn van ander.

Geliefdes, hou vas aan God. Hy het gered, Hy red nou, en Hy sal weer red. Dit is ons vaste hoop, selfs ná die moeilikste tye.

Ds Danie Taljard, Sionshoogte