Handelinge 11: 19-30
Reg deur die Bybel kan ons keer op keer die werking van die Gees van God beleef. Die Gees van God versterk mense, lei mense en ondersteun mense. Mense kom tot geloof deur die kragtige invloed van die Heilige Gees.
Hierdie gedeelte wat ons saam gelees het begin deur te vertel van die vervolging van die vroeë gelowiges. Stefanus is gestenig weens sy geloof. Hierna beleef die vroeë gelowiges drukkende vervolging. Hulle beleef die hardheid en die wreedheid van hierdie wêreld. Die vroeë gelowiges word uitmekaar gejaag.
Van hierdie vlugtende gelowiges kom in Antiogië aan en beleef die werking van die Heilige Gees. Daar kom mense tot geloof en vorm ’n gelowige gemeenskap. Die gelowiges dien die Here met oorgawe. Vers 26 vertel vir ons dat hier in Antiogië is die gelowiges vir die eerste keer Christene genoem.
Barnabas word na Antiogië gestuur en werk voluit saam met hierdie gelowiges. Daar word aan ons gedeel dat hy vol van die Heilige Gees was. Barnabas het nie net in die gemeente nie, maar ook in sy eie lewe die werking van die Gees beleef.
Wanneer ons lees van die eerste gelowiges en die werk wat hulle gedoen het, beleef ons die duidelike werking van die Heilige Gees. Die Gees van God het saam met die gelowiges gewerk. Die Gees het die ore en die harte van de mense bereik en duisende mense het tot bekering gekom.
Selfs waar die vroeë gelowiges uitdagings beleef het, het hulle soveel te meer die werking van die Heilige Gees beleef.
Ons as gelowiges beleef ook die uitdagings van die wêreld. Ons beleef ook tye van nood, tye van druk en selfs tye hartseer. Maar soos die vroeë gelowiges het ook ons die voorreg om die Heilige Gees te beleef. Ons kan elke dag beleef dat ons God deur sy Gees in en deur ons werk.
Gebed
Here laat my asseblief elke dag die kragtige werking en leiding van u Gees beleef en laat my leef vervul met u Gees. Amen.
Ds Michael A Müller, Potchefstroom-Studente