Openbaring 3: 1-6

Sardis was eens ’n stad van rykdom en mag – maar teen die tyd van hierdie brief het sy glorie al begin verbleik. Dieselfde geld vir die gemeente: aan die buitekant was daar ’n goeie naam, ’n reputasie van lewe, maar Jesus spreek hulle direk aan: Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood (Op 3: 1b).

Daar was geen groot dwaling of openlike sondes nie. Alles het normaal gelyk, maar juis dit was die probleem: uiterlike aktiwiteit het die indruk van geestelike gesondheid geskep, terwyl die hart afgekoel het.

Wanneer ’n gelowige eerlik kyk na skyn en werklikheid, besef ons hoe maklik skyn ’n plek in ons geloofslewe kan inneem. ’n Mens kan aktief wees in gemeentelewe, goeie dade doen, selfs geestelik lewendig lyk – maar innerlik verswak wees.

Christus se oproep is daarom dringend. Hy sê nie alles is verlore nie – maar wat nog leef, staan op die rand van die afgrond. Die oplossing is nie méér doen nie – maar om terug te keer na wat regtig saak maak: Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het (Op 3: 3).

Die gemeente van Sardis noop ons om eerlik na onsself te kyk:

Leef ek nog waarlik in geloof, of het ek vasgeval in lewelose godsdienstige gewoontes?

Waar het my geestelike lewe dalk verflou?

2 Timoteus 3: 5 waarsku teen mense wat nog die uiterlike skyn van die godsdiens het, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af. Dawid bid ook in Psalm 139: 23-24: Deurgrond my, o God, deurgrond my hart… (Ps 139: 23a). Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad! (Ps 139: 24).

Jesus sluit af met die belofte: Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal verklaar dat hy aan My behoort (Op 3: 5b).

Ons grootste gevaar is nie dat ons struikel nie – dit is dat ons geestelik aan die slaap raak sonder dat ons dit besef. Vandag is ’n uitnodiging om wakker te word. Om eerlik te kyk en om weer voluit te leef – nie vir skyn nie, maar vir Christus.

Dr Bernard Prinsloo, Onverwacht