Handelinge 2: 44
Wanneer die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort word, is die eerste tekens wat sigbaar word nie net bonatuurlike tekens nie, maar ’n bonatuurlike gemeenskap.
Die Gees bring mense van verskillende tale, kulture en agtergronde bymekaar in ’n nuwe eenheid wat net in Christus moontlik is.
Hierdie eenheid is nie oppervlakkig of geforseer nie – dis die spontane gevolg van harte wat deur dieselfde Gees beweeg word. Die vroeë kerk deel nie net bates nie, maar ook lewe, gebed, en roeping.
Hulle word ’n familie, gevorm deur die Gees.
In ’n wêreld wat steeds meer verdeel is – deur ras, politiek, klas en kultuur – herinner Pinkster ons dat ware eenheid nie deur mense bewerkstellig kan word nie, maar deur die Gees van God.
Eenheid beteken nie eendersheid nie, maar om jouself oop te stel vir ander in liefde, diens en wedersydse afhanklikheid.
Dit is nie maklik nie. Ons het so gewoond geraak – soms noodgedwonge – aan hoë mure, en groot hekke, nie net fisies nie, maar ook figuurlik. Wat sekere idees en gewoontes en maniere moet inhou en sekeres liefs moet uithou.
Ons hou in baie opsigte van eenvormigheid. Daar moenie te veel dinge wees wat ons wêreld laat kantel nie.
Maar as ons praat oor die Heilige Gees wat beweeg, sien ons nie net ’n beweging na God toe nie, maar ook na mekaar toe.
’n Geesvervulde lewe wat beweeg is altyd ook ’n gemeenskapsgerigte lewe.
Gebed
O Gees van God wat in ons woon,
Beweeg ons vandag tot liefde wat uitreik, tot woorde wat genees en tot dade wat brugbou eerder as skeiding bring.
Waar daar verdeeldheid is – bring vrede.
Waar daar eensame harte is – bring gemeenskap.
Waar ons verskil – bring eenheid.
Maak ons een liggaam in Christus, een in doel, een in liefde, een in diens aan u wêreld.
Vul ons met u Gees sodat ons nie net getuig van u krag nie, maar ook leef in u liefde.
Amen.
Ds Leanie Lemmer, Bellville