Markus 4: 26-27

Die koninkryk van God is soos ’n man wat saad op die land saai… (Mar 4: 26). …die saad ontkiem en groei sonder dat hy weet hoe (Mar 4: 27).

Jesus gebruik dikwels beelde van die natuur en van groei om die Koninkryk van God te beskryf. Hierdie is ’n unieke gelykenis wat net in Markus 4 voorkom, maar deur hierdie gelykenis leer Hy ons dat die werk van God dikwels in die stilte en sonder opspraak gebeur – soos ’n saad wat onder die grond begin groei. Die man saai saad op sy land en dan gaan hy aan met sy dag-tot-dag-lewe en so tussendeur die normale gang van sake is die saad besig om te groei.

Ons sien nie dadelik die groei en verandering nie, nog minder sien ons die vrugte, maar dit beteken nie dat daar nie groei plaasvind nie. Koninkrykstyd herinner ons daaraan dat God se Koninkryk reeds hier is, dit groei reeds, maar is ook nog besig om ten volle deur te breek. Dit vra van ons ’n geloof wat kan wag… dien en vertrou. Ons wêreld vereis resultate en sigbare suksesse, tog roep Jesus ons om getrou te bly al sien ons die onmiddellik die vrug nie.

Die boer is nie passief nie, hy saai die saad, so ook is ons geroep om te saai, om liefde, waarheid en geregtigheid te leef. Dalk bid jy al lank vir ’n familielid, of jy werk hard en getrou sonder groot erkenning. Dalk wag jy in spanning vir ’n deurbraak. Hierdie teks in Markus 4 bemoedig jou: God is besig, selfs al lyk dit stil. Groei is besig om te gebeur – in mense om jou en in jou eie hart. God werk in die stilte.

Die gelykenis eindig ook met ’n belofte… Daar sal ’n oes wees. Mag jy vandag ’n punt daarvan maak om getrou te bly en aan te hou werk in God se Koninkryk. Jy weet dalk nie hoe of wanneer nie, maar God bring groei.

Ds Yolandé de Lange, El-Flora