Lukas 24: 13-35

Toe gaan hulle oë oop en hulle het Hom herken… (Luk 24: 31).

Twee teleurgestelde dissipels stap kop onderstebo op die pad na Emmaus. Alles waarop hulle gehoop het, het verbrokkel – Jesus is dood, die droom is verby. En toe, op daardie gewone stofpad, kom iemand by hulle aansluit. Hulle herken Hom nie. Hy lyk nie soos hulle verwag nie. Hy tree nie op soos ’n verlosser nie. Maar Hy loop, luister, verduidelik en breek uiteindelik brood – en skielik gaan hul oë oop: dit is Jesus self!

Die Emmaus-verhaal herinner ons daaraan dat God dikwels kom in vermomming. Nie in donderweer en vuur nie, maar in die vreemde gesig langs jou, in die gesprek wat jy amper gemis het, in ’n eenvoudige maaltyd. God verras. Hy pas nie altyd in ons verwagtinge of teologiese vooropgestelde idees nie. En wanneer ons te seker is van waar en hoe Hy móét wees, sien ons Hom soms glad nie raak nie.

Jesus kom hier nie as ’n triomfantlike opgestane koning nie, maar as ’n onbekende medereisiger. Hierdie beeld van God vra dat ons met oop oë leer kyk – dat ons leer om die heilige in die alledaagse, en selfs in die vreemdeling, te herken. In ’n wêreld waar mense maklik uitgesluit, geïgnoreer of gestereotipeer word, herinner die Emmausverhaal ons dat die gesig van Christus dikwels kom in die ander – die eenvoudige, die onverwagses, die onbelangrikes.

Praktiese toepassing: Wees vandag bewus van mense wat jy dalk maklik miskyk – ’n kollega, ’n kasregisterassistent, ’n kind. Maak oogkontak, luister, wees teenwoordig. Dalk is God op pad na jou toe  in daardie persoon.

Gebed

God van verrassings, help my om U raak te sien, selfs waar ek U nie verwag of soek nie. Open my oë vir u teenwoordigheid in ander. Amen.

Ds Johnny Young, Rustenburg-Tuine