Spreuke 31: 10-31
Watter soort dinge moet ’n ander mens doen of wees sodat ons van hom of haar hou of ’n goeie indruk van daardie persoon kry? Ons hou van mense wat suksesvol in hulle werk is, wat slim of mooi is, wat goeie dinge in die gemeenskap doen, wat oor die algemeen goed met mense oor die weg kom, wat vrygewig is, wat miskien ’n goeie huwelik en kinders het, wat mooi maniere het, en al sulke soort dinge. Ek lees egter nóg iets in die Bybel, hier in Spreuke 31: 30.
Dit geld natuurlik vir alle mense dat uiterlike dinge niks werd is, as ons nie terselfdertyd die Here met oorgawe dien nie. Onthou vir Kain wat gedink het bloot om te offer is goed genoeg; onthou die Fariseërs wat gedink het die wet kan ’n mens vry maak.
Ek sê baie keer ek weet eerlikwaar nie hoe kom ongelowiges deur krisis en nood nie. Geld kan nie alles koop nie, status kan nie verseker dat jy siekte en gevaar vryspring nie, uiterlike skoonheid beteken nie dat jy altyd gelukkig is nie. Ja, dis ook waar dat die gelowige ook nie altyd ’n 100% maklike lewe het nie. Die verskil is net dat die gelowige weet dat niks op aarde ewigheidswaarde het nie, slegs die feit dat God in jou lewe is.
Die goeie indruk wat ons daarom van mense kry, moet nie wees omdat hy of sy een of ander goeie daad gedoen het of enige ander uiterlike kwaliteit het nie. Ons moet agting en respek hê vir iemand wat werklik die Here soek en dien. Maar dit beteken nog steeds nie dat ons die mens en sy goeie eienskappe hier moet goedpraat nie. Dit is genade as ons iets goed kan doen en wees.
Wat sien u kinders en man by u, susters? Wat sien u vrou en kinders by u, broers? Wat sien julle ouers by julle, kinders? En kerkraad: wat sien die gemeente en die wêreld by u en my? Sien ons wonderlike mense, of sien ons vir God?
Ds Hannelie Botha, Beroepafwagtend