Handelinge 2: 32-36
God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak! (Hand 2: 36).
Jesus se aardse bediening was nie deur almal met dieselfde entoesiasme ontvang nie. Vir sommige was Hy die Messias, die gestuurde Een en deur ander was Hy beskou as ’n bedrieër en ’n leuenaar. Vir dié wat Hom nie wou ken, dien of volg nie, was die uitroep om Hom te kruisig woorde wat hulle graag wou hoor. En wanneer Jesus ter dood veroordeel word en sterf aan die kruis, was hulle oortuig daarvan dat dit die einde is. Vir hulle storie, was dit die ideale einde. Die leë graf was egter die getuienis wat ’n hele ander storielyn van God se genadewerk ingelei het.
Die leë graf het egter nie van die begin af ’n storielyn ingelei wat getuig het van Jesus se volgelinge wat van meet af met oorgawe en toewyding geglo en getuig het oor die gebeure wat plaasgevind het nie. Inteendeel, die evangelies vertel vir ons dat die vroue wat die graf besoek het, aanvanklik nie geweet het wat om daarvan te dink dat Jesus se liggaam nie in die graf was nie. Jesus se dissipels het selfs nie vir Maria Magdalena geglo toe sy aan hulle vertel het dat sy Hom gesien het nie. In Johannes 20: 9 word dit gestel dat hulle, verwysende na Petrus en Johannes, nog nie die Skrif verstaan het dat Jesus uit die dood moes opstaan nie.
Die ongelowige-Tomas-oomblikke wat met tye so maklik vatplek in ons lewe kry, kan egter nie ’n streep trek deur die reddende werk van God nie. Net so kon die vals boodskap van die priesterhoofde en familiehoofde dat Jesus se dissipels deur die nag Sy liggaam kom steel het, nie ’n streep deur die waarheid trek dat God se liefde oorwin het nie.
Petrus se toespraak op Pinksterdag wat onder leiding van die Heilige Gees plaasvind, herinner ons tot vandag toe daaraan dat ons almal getuies is. Hierdie getuienis lewer ons deur die Heilige Gees wat ons van die Vader ontvang het. Alhoewel Jesus se sterwe aan die kruis ’n tyd van onsekerheid gebring het, hoor ons in Petrus se toespraak ’n belydenis wat ons saam met ons neem en wat ons daaraan herinner dat God se genadewerk alles oortref: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!
Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal