Suid-Afrika het die afgelope jare deur verskeie droogtes gegaan. Ons is diep dankbaar teenoor die Here vir die goeie reën wat in verskillende gebiede vir baie mense en diere uitkoms gebring het. Die droogte in die gebiede van Calvinia en Williston duur egter nog voort. Behalwe dat boorgate en damme opdroog, droog mense se hoop op oorlewing ook op. Mense vind dit al hoe moeiliker om te oorleef, aangesien bestaande hulpbronne besig is om op te droog of reeds opgedroog het.

In Handelinge 4: 32 lees ons dat die gelowiges van die eerste gemeente in Jerusalem mekaar bygestaan het toe die nood in Jerusalem groot was. Die gelowiges het alles met mekaar gedeel. Hulle het nie net hul besittings gedeel nie, maar het mekaar ook met die evangelie van Jesus Christus bemoedig. Met Woord en daad, met Woord en middele, met Woord en goed het hulle mekaar gehelp.

Die Kommissie van die Algemene Diakensvergadering beplan om op 26 Augustus ’n vragmotor met voer na die gebiede van Calvinia en Williston te stuur. Indien u ’n finansiële bydrae tot die projek wil maak, kan u dit inbetaal in die volgende rekening:

Raad van Finansies

ABSA Tjekrekening

Rekeningnommer: 020 000 287

Takkode: 632005

Verwysing: 16RAMP + Gemeentenaam/persoonsnaam

Lede van die ADV Kommissie gaan die gebied van 26 tot 28 Augustus besoek. Ons neem ook skryfbehoeftes vir die skole saam. Indien daar gemeentes, Bybelstudiegroepe of jeuggroepe is wat boodskappe van hoop en bemoediging aan die boere of kinders wil stuur, sal ons dit graag saamneem en aan die betrokkenes oorhandig. ’n Prentjie van omgee is net so kosbaar soos ’n vrag voer. U kan boodskappe e-pos na mvr@nhk.co.za. Persone wat nie toegang tot die internet het nie, kan prente in Pretoria afgee by Rata se hoofkantoor in Montana (NHKA Montana).

Kom ons wys vir die mense in die gebiede van Calvinia en Williston dat ons omgee.

Graag herhaal ons hierdie uitnodiging: Indien daar ander gebiede in ons land is wat ook droogtehulp benodig, kan u met die sekretaris van die Kommissie van die ADV, ds Gerhard Stoltz, in verbinding tree by 082 872 5236  of gerhard@diakens.co.za.

Rig navrae rakende hierdie projek aan dr Martin Jansen van Rensburg by 083 633 7335 of mvr@nhk.co.za; of diak Andries Pretorius by 081 466 8691 of andries@rata.org.za.

Lys van skoolbenodigdhede 

Items Hoeveelheid
Skryfboeke, jotters 72 bladsye 800
Blou penne 800
Eksamenblokke (folio’s) 400
Rooi en swart penne vir opvoeders 50
Dataprojektors 4
Naambord vir skool en koshuis 1 elk

(Ds Martin Jansen van Rensburg is die koördineerder van die ADV se Werkgroep: Armoede)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap