Lees Romeine 1: 8-17

Terwyl die apostel Paulus besig was om die evangelie te vestig, het hy onder andere te doene gehad met die destydse magtige Romeine Ryk wat oor groot dele van die Europese wêreld en selfs Noord-Afrika geheers het. Hy het met hul keiseraanbidding te doene gehad.

Al wat hy gehad het, was net die evangelie. Dit was vir hom die enigste krag wat gestaan het teenoor die mag van die Romeine – en dit het hom geensins gepla nie, want hy was nie skaam vir dit wat hy gehad het om aan die wêreld en sy mense te bied nie. Vir hom was die evangelie die krag tot redding vir elkeen wat glo. Hy was selfs bereid om in die tronk te sit en stukkend geslaan te word ter wille van hierdie oortuiging dat Jesus Christus gebore is, aan die kruis gesterf het en die dood oorwin het. Dit beteken redding en verlossing vir die sondaar. Iets wat die mag van die Romeine en so ook die magte van die wêreld nog nooit kon waarborg nie.

Die woord krag kom in die Griekse teks voor as dunamis wat ook dinamiet kan beteken wat rotse kan laat bars. ’n Krag wat deur niks gekeer kan word nie.

En dit is juis wat Paulus dikwels verdedig het. Een van die mees besonderse gebeure is dié waarvan ons in Handelinge 26 lees wanneer hy voor koning Agrippa verskyn, en dan ook die krag van die evangelie verdedig sodat selfs die heidense Agrippa vir hom sê: Jy dink seker jy kan my sommer gou-gou ’n Christen maak. Dan antwoord Paulus hom: U majesteit, of dit nou gou-gou sal gebeur of dalk ’n bietjie langer sal neem, gebeur sal dit gebeur. In hierdie stadium is ons albei eintlik vry mense met net dié verskil. U hande is los en myne is vas met boeie. U is vry om te gaan waar u wil, maar ek is vry om my God te aanbid van wie ek glo dat sy genade ook vir my genoeg is. Geen wet of boeie kan dit van my wegneem nie.

Vanaf ongeveer 600 nC het die sogenaamde Donker Middeleeue ontstaan en voortgeduur tot so 1200-1400 nC. Mense het al minder vir hulself gedink. Die Roomse Kerk het gegroei en namens die mense gedink en hulle selfs ook mislei, onder andere deur die aflaatstelsel van ene Johannes Tetzel. Jy kon ’n aflaatbrief koop wat dan beteken dat jy jou sonde voor God afgekoop het. Belydenis voor God was dan nie nodig nie, die aflaatbrief was genoegsaam.

Ons lees dan dat die Kerkhervormers of Reformatore meer en meer na vore kom. Mense soos Martin Luther.

Die geskiedenis vertel dat hy op 31 Oktober 1517 sy 95 stellings vasgespyker het aan die deur van die Slotkerk in Wittenberg, Duitsland. Hy het ook Romeine 1 as teksgedeeltes gebruik, die ware skat van die kerk is die hoogheilige evangelie. Die krag tot redding vir elkeen wat glo.

En dan word hy aangekla. Die klag was eenvoudig: Trek net jou stellings terug en verbrand jou geskrifte en jy is ’n vry man… En dan Luther se bekende en mees betekenisvolle antwoord: Hier staan ek, ek kan nie anders nie. Ek sal dit nie terugtrek nie. En dan word hy voëlvry verklaar. Dit beteken as’t ware doodstraf.

Die ware skat vir kerkwees is en bly die hoogheilige evangelie – die krag tot redding vir elkeen wat glo.

Moet nooit skaam wees vir jou geloof nie, want die Woord van God, die Blye Evangelie, verkondig dat God nie net verhewe is bo enige wêreldse mag nie. Hy en Hy alleen sal bepaal of ons die hemelse lewe sal bereik of nie.

Baie bevoorreg is elkeen wat hom of haar nooit skaam vir die evangelie nie. Dit is die krag tot redding vir elkeen wat glo.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap