Elke gemeente gaan deur ’n tyd van seer as hul dominee van soveel jare emeritaat aanvaar. Hulle was lief vir hom, het vasgegroei aan hom en gehou van sy bedieningstyl. So het Gemeente Bronkhorstspruit dit in Desember 2023 beleef. Maar die dieper seer sou kom met die afsterwe van hul geliefde leraar van 38 jaar in Januarie 2024. Wyle ds Jan van Staden het diep spore getrap en diep in die harte van die gemeentelede gekruip.
So is ek lank reeds voor ds Jan se afsterwe gevra om daar te kom preek. Daardie Saterdag neem die gemeente afskeid van hom tydens sy dankdiens wat deur ds Naas Lombard gelei is. Die volgende dag moet ek daar preek. Wat preek jy? Jy kan net nog troos en ondersteuning bring en net vashou en saam huil. Dan kom die vraag aan my wat almal bekommerd maak: Wat dan nou, Dominee?
Die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB) het betrokke geraak en die kerkraad het hul behoeftes uitgespel. Op 1 Maart 2024 het my wonderlike pad as brugpredikant daar begin. En op 6 April 2025 ontvang ons God se geskenk aan ons as gemeente na die seertyd: ds Drian en sy vrou prop Annami Cockeran. Dwarsdeur 2024 het God ons as gemeente talle kere herinner: Ek hou julle vas.
Ons as gemeente deel graag met die Kerk ons vreugde om ’n leraarspaar te kan ontvang. En mag God se liefde ander gemeentes weer aanmoedig om nie moedeloos te word nie as jul lewens ontwrig word. God vat jul hand.
Geniet die meegaande foto’s wat hierdie nuwe tydvak in Gemeente Bronkhorstspruit inlei.
Soli Deo gloria.
Hooffoto: Oudl Dries le Roux oorhandig die akte van ordening aan prop (nou ds) Drian Cockeran

Ds Lisa-Mari Prinsloo het ds Drian se ordening waargeneem. Ds Drian het ’n gedeelte van sy prakties by haar voltooi.

Dr Martin Jansen van Rensburg, ds Lisa Jansen, dr Christo Viljoen (emeritus, lidmaat by Gemeente Bronkhorstspruit), prop Annami Cockeran, di Drian Cockeran, Peet Esterhuizen en Robby Pienaar

Ds Drian en prop Annami Cockeran
