Elke dag as ek en my dogtertjie by die huis stop [terwyl mamma elke moontlike sak (gelyktydig) probeer dra – want behoed my as ek meer as een keer moet loop], hardloop my driejarige en skreeu uit volle bors: Ek gaan jou wen, Mamma … en elke dag is sy eerste by die deur.

Sy wen! Niks.

Daar en dan herinner God my dat ons as vroue ook daagliks in kompetisie is met mekaar. Ons hardloop om eerste te wees, ons wil tog so graag wen… net om te besef dit is als eintlik tevergeefs.

Ons kompeteer met vriendinne oor:

  • wie se huis is die grootste;
  • wie is die maerste;
  • wie se vakansie is die duurste;
  • wie se kinders is die oulikste of die slimste…

Later kompeteer ons nie net met vriendinne nie, maar sommer met almal: kollegas, familie en vreemdelinge…

Die kompetisie gaan oor aardse dinge wat vir as gelowige vroue van min waarde moet wees, maar nou begin ons selfs met medegelowiges kompeteer, want o nee, jy mag tog net nie ’n beter verhouding met God hê as ek nie.

Ons is konstant in kompetisie met ander, bloot sodat ons beter oor onsself kan voel, en die meeste van die tyd voel ons teen die einde van die dag minderwaardig. Ons kyk in die spieël en sien nie meer ons sterkpunte raak nie, ons vergeet al ons goeie eienskappe, en die beeld wat weerkaats, laat ons sleg(ter) voel.

Ek en jy is besig om ons longe uit te hardloop (soos my dogtertjie) net om eerste te wees, om die beste te wees, om vir die wêreld ’n punt te bewys… net om eintlik NIKS te wen nie.

Ons is uitasem. Ons maak onsself moeg!

Al ons aandag en energie word gefokus op dinge wat, in alle eerlikheid, glad nie saak maak nie.

As ons na die groter prentjie kyk, maak die prys van jou huis, die prys van jou motor of die prys van jou vakansie nie saak nie. Jou menswees en jou verhouding met God is waar die eintlike waarde lê.

Prediker 4: 6 (Die Boodskap) sê in eenvoudige woorde, iets wat ons almal reeds weet, maar so maklik vergeet: Wees eerder met minder tevrede as om heeltyd agter wind aan te hardloop.

Eenvoudig gestel, sekere dinge is maar net belangriker as ander dinge.

Hou op om jouself moeg te maak oor of met dinge wat nie werklik van belang is nie. Mag God elkeen van ons help om die onderskeid te maak.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap