Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Luister hoe ons Here Jesus Christus die heilige nagmaal ingestel het, soos die apostel Paulus dit in sy eerste Brief aan die Korintiërs weergegee het:

‘Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”

Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

Elkeen wat op ‘n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ‘n oordeel oor homself.’

Om die nagmaal van die Here so te kan hou dat ons daardeur getroos kan word en verseker kan word van ons heil, is twee dinge nodig: Enersyds moet ons onsself vooraf reg ondersoek; andersyds moet ons die doel in die oog hou waarvoor die Here Christus die nagmaal ingestel het, naamlik dat dit gedoen moet word tot sy gedagtenis.

Die ware selfondersoek bestaan uit die volgende:

Ten eerste moet ons elkeen nadink oor ons sonde en verlorenheid, sodat ons kan besef hoe veragtelik ons voor God is en dat ons ons voor God moet verootmoedig. Die toorn van God teen die sonde is immers so groot dat Hy dit in sy geliefde Seun Jesus Christus met die verskriklike en veragtelike kruisdood gestraf het eerder as om dit ongestraf te laat bly.

Ten tweede moet ons elkeen vir onsself duidelikheid kry of ons dié vaste versekering van God glo dat al ons sondes slegs op grond van die lyding en dood van Jesus Christus vergewe is. Verder, of ons glo dat die vryspraak wat Christus vir ons bewerkstellig het, so volkome deur God aan ons geskenk is asof onsself vir al ons sondes betaal en ons saak met God reggemaak het.

Ten derde moet ons elkeen onsself eerlik afvra of ons van nou af hiervoor aan God dankbaarheid gaan bewys en dit in ons hele lewe sal openbaar deur opreg voor Hom te lewe. Verder, of ons eerlik alle vyandskap, haat en nyd uit die weg sal ruim en ‘n ernstige voorneme het om voortaan in ware liefde en eensgesindheid met ons naaste te lewe.

God wil almal met so ‘n gesindheid en houding in genade aanneem en as waardige tafelgenote van sy Seun Jesus Christus aanvaar.

Daarteenoor sal diegene wat nie hierdie gesindheid en voorneme by hulleself vind nie, die oordeel van God oor hulle bring as hulle aan die nagmaal deelneem. Daarom wil ons dan ook, in ooreenstemming met die bevel van Christus en die apostel Paulus, almal wat die volgende sondes doen, waarsku om nie aan die nagmaal van die Here deel te neem nie, en aan hulle verkondig dat hulle buite die ryk van Christus verkeer. Ons praat van mense wat aan ander gode as die een ware God glo, mense wat afgestorwenes, engele of ander geskape wesens en dinge om hulp en bystand aanroep, asook mense wat aan afbeeldings eer betoon. Verder, almal wat hulle met toordery en waarsêery ophou, wat diere, mense of dinge sogenaamd besweer en almal wat daaraan glo; almal wat God, sy Woord en die heilige sakramente verag, asook almal wat teen God laster. Voorts, almal wat skeuring in die kerk en rewolusie teen die staat wil veroorsaak, almal wat meineed pleeg en almal wat die gesag van hulle ouers, meerderes en owerhede misken. Hierby ook alle moordenaars, bakleiers, rusiemakers en dié wat in haat en nyd teenoor hulle naaste lewe. Laastens ook hulle wat egbreuk pleeg, die huwelik misken en onsedelik lewe; ook dronkaards, diewe, uitbuiters, rowers, dobbelaars, hebsugtiges en almal wat ‘n dergelike afstootlike lewe lei. Hierdie mense moet, solank hulle in sulke sondes volhard, hulle van die gebruik van die nagmaal weerhou, sodat die oordeel en ewige straf van God oor hulle nie nog swaarder word nie. Christus het immers sy nagmaal ingestel vir dié wat in Hom glo.

Maar, geliefdes in die Here, hierdie dinge word nie aan ons voorgehou om die gelowiges wat reeds diep bewus van hulle sondes is, die vrymoedigheid te ontneem om aan die tafel van die Here aan te sit asof slegs dié wat sonder enige sonde is, daaraan deel mag hê nie. Ons kom tog nie na die tafel toe om daarmee te kenne te gee dat ons uit onsself volmaak en sonder sonde is en daarom die ewige lewe het nie. Inteendeel, deurdat ons die lewe nie by onsself soek nie, maar in Christus, bely ons juis dat ons onvolmaak en vanweë ons sonde aan die dood onderworpe is.

Dit is so dat ons nog baie gebreke en rede tot kommer in onsself vind, soos byvoorbeeld dat daar baie aan ons geloof te kort skiet, dat ons God nie met so ‘n ywer dien as wat ons aan Hom verskuldig is nie, en dat ons daagliks teen die swakheid van ons geloof en die drifte van ons sondige natuur moet stry. Maar omdat ons deur die genade van die Heilige Gees oor sulke gebreke innig en opreg berou het en met alle mag teen ons ongeloof weerstand wil bied en van harte begeer om volgens al die gebooie van God te lewe, kan ons daarvan volkome seker wees dat niks ons van die tafel van die Here kan weerhou nie. Ja, geen sonde of swakheid waarteen ons tot dusver nog die stryd verloor het, kan verhinder dat God ons in genade aanneem en ons waardig maak om van hierdie hemelse voedsel en drank te geniet nie.

Laat ons vervolgens nadink oor die doel waarvoor die Here sy nagmaal vir ons ingestel het: dit is dat ons dit moet doen tot sy gedagtenis. Ons gedenk Hom in die nagmaal deur die volgende in geloof en vertroue te aanvaar:

  • Jesus Christus is, soos van die begin af aan die aartsvaders beloof is, deur die Vader na hier die wêreld toe gestuur.
  • Hy het mens geword soos een van ons en Hy het die toorn van God, waaronder óns eintlik die ewige dood sou moes sterwe, van die begin van sy menswording af tot aan die einde van sy lewe op aarde, vir ons onthalwe verduur.
  • Hy was namens ons volkome gehoorsaam aan die wet van God en het vir ons vryspraak bewerk:

— Die las van ons sonde en van die toorn van God daarop het so swaar op Hom 
gedruk dat die sweet Hom in Getsemane soos bloeddruppels afgetap het.

— Daar is Hy gevange geneem sodat ons vry kan uitgaan.

— Daarna het Hy talle beledigings verduur sodat ons nooit tot skande gemaak 
sou word nie.

— Hy is onskuldig tot die dood veroordeel sodat ons in die oordeel van God 
vrygespreek kan word.

— Meer nog: Hy het sy geseënde liggaam aan die kruis laat spyker om as ‘t ware 
die skuld bewys van ons sondes daaraan vas te nael.

— So het Hy die vervloeking wat op ons moes neerkom, op Homself geneem 
sodat ons met sy seëninge vervul kon word.

— Hy het Homself aan die kruishout verneder en liggaamlik en geestelik die allerdiepste 
ellende en angs van die hel ondervind, sodat Hy hardop uitgeroep het: 
‘My God, my God, waar om het U My verlaat?’ — dit alles sodat ons altyd by God kan 
wees en nooit deur Hom ver laat sal word nie.

— Uiteindelik het Hy deur sy dood en bloedstorting die nuwe en ewige testament, die verbond 
van die genade en versoening, bekragtig toe Hy gesê het: ‘’Dit is volbring.”

Sodat ons vas kan glo dat ons tot hierdie genadeverbond behoort, het die Here Jesus tydens sy laaste aandete die nagmaal ingestel. Hy het die brood geneem, daarvoor gedank, dit gebreek, aan sy dissipels gegee en gesê: ‘Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.’ Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem, daarvoor gedank, dit aan hulle gegee en gesê: ‘Drink almal daaruit. Hierdie beker is die nuwe verbond wat deur my bloed beseël is, die bloed wat vir julle en vir baie mense uitgestort word tot vergewing van sondes. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.’ (sien endnoot 1)

Ons verstaan hierdie woorde so: Elke keer wanneer julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, sal dit julle soos ‘n blywende aandenking en waarborg herinner aan en verseker van my hartlike liefde en trou teenoor julle, dat waar julle anders die ewige dood sou moes sterwe, Ek aan die kruishout my liggaam in julle plek aan die dood oorgee en my bloed vir julle stort. Met my gekruisigde liggaam stil Ek julle geestelike honger en met my uitgestorte bloed les Ek julle geestelike dors, sodat julle ewig kan lewe. Hiervan kan julle net so seker wees as wat die brood voor elkeen se oë gebreek word en die beker aan elkeen gegee word en julle dit tot my gedagtenis met die mond eet en drink.

Uit hierdie instelling van die heilige nagmaal deur ons Here Jesus Christus sien ons dat Hy ons geloof en vertroue gerig wil hê op die volkome offer wat Hy eenmaal aan die kruis gebring het, as die enigste grondslag vir ons verlossing. So het Hy die ware voedsel en drank van die ewige lewe geword om ons geestelike honger te stil en ons geestelike dors te les. Deur sy dood het Hy immers die oorsaak van ons ewige honger en kommer, naamlik die sonde, weggeneem. Dit is aan Hom te danke dat ons die lewendmakende Gees ontvang het. En deur die Gees wat in Hom as die Hoof en in ons as sy lede woon, bind Hy ons aan Hom, sodat ons aan al sy rykdom, dit wil sê die ewige lewe, die geregtigheid en die heerlikheid deel kan kry.

Ons word verder ook deur dieselfde Gees as lede van een liggaam in ware broederlike liefde aan mekaar gebind, soos die apostel sê: ‘Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.’ Net soos baie graankorrels tot een meel gemaal en daaruit een brood gebak word, en baie druiwekorrels, as hulle gepars word, tot een wyn saamvloei en meng, so moet ons almal wat deur die geloof in Christus ingelyf is, in broederlike liefde een liggaam wees ter wille van Christus ons geliefde Saligmaker, wat ons eerste so uitnemend liefgehad het. Ons moet dit ook nie alleen met woorde nie, maar ook met die daad teenoor mekaar bewys. Mag die almagtige, barmhartige God en Vader van ons Here Jesus Christus ons deur sy Heilige Gees daartoe help. 

Amen

Laat ons ons nou voor God verootmoedig en met ware geloof bid dat Hy ons in sy genade aan dit alles deel sal laat kry

(sien endnoot 2):

Barmhartige God en Vader, ons bid dat U in hierdie nagmaal waarin ons die verlossende betekenis van die bittere dood van u geliefde Seun, Jesus Christus in herinnering roep, deur u Heilige Gees so in ons harte sal werk dat ons ons al meer aan u Seun, Jesus Christus, sal oorgee en ons vertroue op Hom sal stel. Laat ons vermoeide en verslae harte deur bemiddeling van die Heilige Gees gevoed en verkwik word met die liggaam en bloed van Jesus Christus, ja met Hom, ware God en mens, die enigste hemelse brood.

Gee dat ons nie verder in ons sondes leef nie, maar dat Christus in ons leef en ons in Hom. So het ons dan waarlik deel aan die nuwe en ewige testament en verbond van die genade. Versterk ook so die ontwyfelbare wete dat U ewig ons genadige Vader is, wat ons ons sondes nooit meer sal toereken nie en dat U ons as u geliefde kinders en erfgename liggaamlik en geestelik met alles wat nodig is, sal versorg.

Skenk aan ons u genade om sonder huiwering ons kruis op te neem, onsself te verloën, ons Verlosser te bely en hoe neerdrukkend die omstandighede ook al is, met volharding te bly hoop op die koms van ons Here Jesus Christus uit die hemel, wanneer Hy ons sterflike liggame soos sy verheerlikte liggaam sal maak en ons tot in ewigheid by Hom sal neem.

Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. 
Amen (sien endnoot 3)

Uitnodiging na die nagmaal

Voor die eerste tafel:

Broers en susters in die Here, u word hartlik uitgenooi om te kom aansit aan die nagmaal van die Here! Namens die kerkraad van die gemeente word belydende lidmate van ander gemeentes van ons kerk en belydende lidmate van kerke met dieselfde belydenis as ons kerk, van harte uitgenooi om saam met ons nagmaal te gebruik; mits u nie onder kerklike tug staan nie en die vrymoedigheid het om in u eie gemeente aan die tafel van die Here aan te sit.

Tafelformule

Om dan nou met die ware hemelse brood, Christus, gevoed te word, moet ons geen verwagtinge van die brood en die wyn as sodanig koester nie, maar ons in die geloof op Christus Jesus rig wat in die hemel is, waar Hy as ons Voorspraak aan die regterhand van sy hemelse Vader optree en waarheen die betrokke geloofsartikel ons ook wys. Laat ons ook nie daaraan twyfel nie dat ons lewe net so werklik deur bemiddeling van die Heilige Gees met Christus se liggaam gevoed en verkwik word as wat ons by hierdie gedenkmaaltyd die brood en die wyn eet en drink.

Uitnodiging na die nagmaal

By die tweede en daaropvolgende tafels kan een van die volgende of soortgelyke Skrifgedeeltes gebruik word:

Gemeente, alles is gereed; kom na die tafel van die Here. Kom, en word versterk in die geloof (Matt 22:4).

Gemeente, kom; die maaltyd staan klaar (Luk 14:17).

Kom, gemeente, ons is almal van die Here afhanklik. Hy voed ons op sy tyd (Ps 104:27)!

Gemeente, kom dan; want die Here maak sy hand oop en ons kry meer as genoeg (Ps 104:28)!

Kom, gemeente, laat ons ons oë op die Here rig; want Hy voed ons op ons tyd (Ps 145:15)!

Kom, gemeente, eet! Anders sal die pad vir u te lank word (1 Kon 19:7).

Wanneer die brood gebreek en uitgedeel word, sê die bedienaar:

Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van Christus (1 Kor 10:16).

En wanneer die beker aangegee word:

Die beker van danksegging waarvoor ons God dank, is die gemeenskap met die bloed van Christus.

Na die bediening sê die bedienaar:

Geliefdes in die Here, aangesien die Here ons nou aan sy tafel gevoed en verryk het, laat ons almal saam in dankbaarheid sy Naam prys deur elkeen soos volg in sy en haar hart te spreek:

‘Ek wil die Here loof, 
met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. 
Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. 
Dit is Hy wat al my sonde vergewe, 
wat al my siekte genees, 
wat my red van die graf 
en my met liefde en ontferming kroon.

Barmhartig en genadig is die Here, 
lankmoedig en vol liefde. 
Hy sal ons ons sonde nie bly toereken 
en nie vir ewig toornig bly nie. 
Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, 
vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, 
want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, 
so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. 
So ver as die ooste van die weste af is, 
so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. 
Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, 
so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien’ (Ps 103:1-4, 8-13).

‘Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, 
maar Hom oorgelewer om ons almal te red. 
Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom skenk nie’ (Rom 8:32)?

‘Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin 
dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 
Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, 
staan dit soveel vaster dat 
ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 
Aangesien ons, toe ons nog vyande was, 
deur die dood van sy Seun met God versoen is, 
staan dit soveel vaster dat 
ons, noudat ons versoen is, 
deur die lewe van sy Seun gered sal word’ (Rom 5:8-10). 
Daarom sal ek met mond en hart die Here loof, van nou af tot in ewigheid. 

Amen

Gebed

Almagtige, barmhartige God en Vader, ons dank U met ons hele hart dat U u enigste Seun alleen op grond van u barmhartigheid aan ons as ‘n Middelaar en offer vir ons sondes en as voedsel en drank van die ewige lewe geskenk het. Ons dank U ook dat U ons ‘n opregte geloof gee, waardeur ons aan u gawes deel kry en dat U ook tot die versterking van ons geloof die heilige nagmaal deur u geliefde Seun Jesus Christus, laat instel het.

Ons bid U ook, getroue God en Vader, dat u Gees dit in ons harte sal bewerkstellig dat die wyse waarop ons so pas ons Here Jesus Christus gedenk het en sy dood verkondig het, ons elke dag in die ware geloof en die heilsgemeenskap met Hom sal laat toeneem.

Ons bid dit deur u geliefde Seun, Jesus Christus.

Amen

Endnote
  1. Ons het hier met ‘n saamgroepering van Skrifaanhalings te doen. Die aanhalings kom 
    uit Matteus 26:26-28; Markus 14:22-24; Lukas 22:19-20 en 1 Korintiërs 11:23-25.
  2. In die Keurpalts-formulier staan hier slegs: ‘Laat ons bid.’
  3. Die Keurpalts- en ouere Afrikaanse vertaling voeg die Apostolicum hier in as ‘n laaste deel van die gebed.
Share via
Copy link
Powered by Social Snap