Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Luister hoe ons Here Jesus Christus die heilige nagmaal ingestel het soos die apostel Paulus dit in sy eerste Brief aan die Korintiërs weergegee het:

‘Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”

Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

Elkeen wat op ‘n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ‘n oordeel oor homself.’

Ons glo en bely dat ons Verlosser, Jesus Christus, die sakrament van die heilige nagmaal ingestel het om dié te voed en te onderhou wat Hy opnuut gebore laat word het en in sy huisgesin, die kerk, ingelyf het.

Dié wat opnuut gebore is, besit naas hulle liggaamlike en tydelike lewe ook ‘n geestelike en hemelse lewe. Die eerste besit hulle van hulle geboorte af soos alle ander mense. Die tweede is aan hulle gegee deur die nuwe geboorte wat plaasvind deur die Woord van die evangelie, in die gemeenskap van die liggaam van Christus. Nie alle mense besit hierdie lewe nie, maar slegs die uitverkorenes van God.

Vir die liggaamlike en aardse lewensonderhoud voorsien God aan ons gewone aardse brood. Die gewone brood word, net soos die aardse lewe, aan alle mense gegee.

Maar om die geestelike en hemelse lewe wat die gelowiges besit, te onderhou, het Hy vir hulle die lewende brood uit die hemel gestuur, naamlik Jesus Christus. Hy voed en onderhou die geestelike lewe van die gelowiges as Hy geëet word, dit wil sê deur die geloof geestelik toegeeien en aangeneem word.

Om hierdie geestelike en hemelse brood vir ons uit te beeld, het Christus bepaal dat aardse en sigbare brood die sakrament van sy liggaam en wyn die sakrament van sy bloed sal wees.

Hiermee gee Hy aan ons te kenne: So seker as wat ons die sakrament ontvang en in ons hande hou, dit met ons mond eet en drink en hierdie brood en wyn ons aardse lewe onderhou, net so seker ontvang ons deur die geloof (die hand en mond van ons lewe) vir ons geestelike lewe die ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons enigste Verlosser.

Dit staan dus bo alle twyfel vas dat Jesus Christus nie tevergeefs hierdie sakramente ingestel het nie. Hy doen immers in ons alles wat Hy vir ons met hierdie heilige tekens uitbeeld. Hoe dit gebeur, gaan ons verstand te bowe en is vir ons onbegryplik, omdat die werking van die Heilige Gees verborge en onbegryplik is.

As ons derhalwe sê dat wat deur ons geëet en gedrink word, die eie en natuurlike liggaam en die eie bloed van Christus is, is ons nie verkeerd nie. Die manier waarop ons dit nuttig, is egter nie met die mond nie, maar met die gees deur die geloof.

Al bly Christus dus altyd sit aan die regterhand van sy Vader in die hemel, hou Hy tog nie op om ons deur die geloof aan Hom deel te laat hê nie.

Die nagmaal is ‘n geestelike maaltyd waarin Christus Homself en al sy gawes aan ons gee, en ons laat deel kry aan Homself en die verdienste van sy lyding en sterwe.

Hy voed en versterk ons geestelike lewe en vertroos ons in ons troosteloosheid as ons sy liggaam eet. Net so verkwik en verfris Hy ons geestelike lewe as ons sy bloed drink.

Verder vorm hierdie sakramente en wat deur hulle uitgebeeld word, ‘n eenheid, maar nie alle mense wat die sakramente gebruik, ontvang wat daardeur uitgebeeld word nie.

‘n Goddelose en ongelowige mens ontvang wel die tekens, maar nie wat daardeur uitgebeeld word nie, en so bring hy of sy ‘n oordeel oor homof haarself.

Judas en Simon die Towenaar het byvoorbeeld albei wel die sakramentstekens ontvang, maar nie vir Christus wat daardeur aangedui word nie. Hý word alleen aan dié gegee wat glo.

Ten slotte ontvang ons hierdie heilige sakrament (in die erediens) in nederigheid en met eerbied. So gedenk ons met diepe dankbaarheid die dood van Jesus Christus, ons Verlosser, en bely ons ons Christelike geloof.

Daarom behoort niemand by die tafel aan te sit as hulle hulself nie eers aan ‘n grondige selfondersoek onderwerp het nie, sodat iemand nie tot sy of haar oordeel van hierdie brood eet en uit die beker drink nie.

Kortom, deur die gebruik van hierdie heilige sakrament word ons beweeg tot ‘n vurige liefde vir God en ons naaste.

Ons verwerp alles wat met die sakrament vermeng word, asook alle verwerplike menslike uitvindings wat daarby gevoeg word, omdat dit die sakrament ontheilig.

Ons is tevrede om die nagmaal te vier soos Christus en sy apostels ons geleer het. Wat ons daarvan sê, is wat hulle daarvan gesê het. 
Amen

Laat ons ons nou voor God verootmoedig en met ware geloof bid dat Hy ons in sy genade aan dit alles deel sal laat kry.

Barmhartige God en Vader, ons bid dat U in hierdie nagmaal waarin ons die verlossende betekenis van die bittere dood van u geliefde Seun, Jesus Christus in herinnering roep, deur u Heilige Gees so in ons harte sal werk dat ons ons al meer en meer aan u Seun, Jesus Christus, sal oorgee en ons vertroue op Hom sal stel. Laat ons vermoeide en verslae harte deur bemiddeling van die Heilige Gees gevoed en verkwik word met die liggaam en bloed van Jesus Christus, ja met Hom, ware God en mens, die enigste hemelse brood.

Gee dat ons nie verder in ons sondes leef nie, maar dat Christus in ons leef en ons in Hom. So het ons dan waarlik deel aan die nuwe en ewige testament en verbond van die genade. Versterk ook so die ontwyfelbare wete dat U ewig ons genadige Vader is, wat ons ons sondes nooit meer sal toereken nie en dat U ons as u geliefde kinders en erfgename liggaamlik en geestelik met alles wat nodig is, sal versorg.

Skenk aan ons u genade om sonder huiwering ons kruis op te neem, onsself te verloËn, ons Verlosser te bely en hoe neerdrukkend die omstandighede ook al is, met volharding te bly hoop op die koms van ons Here Jesus Christus uit die hemel, wanneer Hy ons sterflike liggame soos sy verheerlike liggaam sal maak en ons tot in ewigheid by Hom sal neem.

Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. 

Amen

Uitnodiging na die nagmaal

Voor die eerste tafel:

Broers en susters in die Here, u word hartlik uitgenooi om te kom aansit aan die nagmaal van die Here! Namens die kerkraad van die gemeente word belydende lidmate van ander gemeentes van ons kerk en belydende lidmate van kerke met dieselfde belydenis as ons kerk, van harte uitgenooi om saam met ons nagmaal te gebruik; mits u nie onder kerklike tug staan nie en die vrymoedigheid het om in u eie gemeente aan die tafel van die Here aan te sit.

Tafelformule

Om dan nou met die ware hemelse brood, Christus, gevoed te word, moet ons geen verwagtinge van die brood en die wyn as sodanig koester nie, maar ons in die geloof op Christus Jesus rig wat in die hemel is, waar Hy as ons Voorspraak aan die regterhand van sy hemelse Vader optree en waarheen die betrokke geloofsartikel ons ook wys. Laat ons ook nie daaraan twyfel nie dat ons lewe net so werklik deur bemiddeling van die Heilige Gees met Christus se liggaam gevoed en verkwik word as wat ons by hierdie gedenkmaaltyd die brood en die wyn eet en drink.

Uitnodiging na die nagmaal

By die tweede en daaropvolgende tafels kan een van die volgende of soortgelyke Skrifgedeeltes gebruik word:

Gemeente, alles is gereed; kom na die tafel van die Here. Kom, en word versterk in die geloof (Matt 22:4).

Gemeente, kom; die maaltyd staan klaar (Luk 14:17).

Kom, gemeente, ons is almal van die Here afhanklik. Hy voed ons op sy tyd (Ps 104:27)!

Gemeente, kom dan; want die Here maak sy hand oop en ons kry meer as genoeg (Ps 104:28)!

Kom, gemeente, laat ons ons oË op die Here rig; want Hy voed ons op ons tyd (Ps 145:15)!

Kom, gemeente, eet! Anders sal die pad vir u te lank word (1 Kon 19:7).

Wanneer die brood gebreek en uitgedeel word, sê die bedienaar:

Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van Christus (1 Kor 10:16).

En wanneer die beker aangegee word:

Die beker van danksegging waarvoor ons God dank, is die gemeenskap met die bloed van Christus.

Na die bediening sê die bedienaar:

Geliefdes in die Here, aangesien die Here ons nou aan sy tafel gevoed en verryk het, laat ons almal saam in dankbaarheid sy Naam prys deur elkeen soos volg in sy en haar hart te spreek:

‘Ek wil die Here loof, 
met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. 
Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. 
Dit is Hy wat al my sonde vergewe, 
wat al my siekte genees, 
wat my red van die graf 
en my met liefde en ontferming kroon.

Barmhartig en genadig is die Here, 
lankmoedig en vol liefde. 
Hy sal ons ons sonde nie bly toereken 
en nie vir ewig toornig bly nie. 
Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, 
vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, 
want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, 
so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. 
So ver as die ooste van die weste af is, 
so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. 
Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, 
so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien’ (Ps 103:1-4, 8-13).

‘Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, 
maar Hom oorgelewer om ons almal te red. 
Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom skenk nie’ (Rom 8:32)?

‘Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin 
dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 
Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, 
staan dit soveel vaster dat 
ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 
Aangesien ons, toe ons nog vyande was, 
deur die dood van sy Seun met God versoen is, 
staan dit soveel vaster dat 
ons, noudat ons versoen is, 
deur die lewe van sy Seun gered sal word’ (Rom 5:8-10).

Daarom sal ek met mond en hart die Here loof, van nou af tot in ewigheid. 

Amen

Gebed

Almagtige, barmhartige God en Vader, ons dank U met ons hele hart dat U u enigste Seun alleen op grond van u barmhartigheid aan ons as ‘n Middelaar en offer vir ons sondes en as voedsel en drank van die ewige lewe geskenk het. Ons dank U ook dat U ons ‘n opregte geloof gee, waardeur ons aan u gawes deel kry en dat U ook tot die versterking van ons geloof die heilige nagmaal deur u geliefde Seun Jesus Christus, laat instel het.

Ons bid U ook, getroue God en Vader, dat u Gees dit in ons harte sal bewerkstellig dat die wyse waarop ons so pas ons Here Jesus Christus gedenk het en sy dood verkondig het, ons elke dag in die ware geloof en die heilsgemeenskap met Hom sal laat toeneem.

Ons bid dit deur u geliefde Seun, Jesus Christus. 

Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap