Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

N en N het begeer dat hulle huwelik in die Naam van God bevestig sal word. Aangesien daarteen geen wettige beswaar ingebring is nie, gaan ons nou daartoe oor.

U, N en N, wat u huwelik openlik in die Naam van God wil laat bevestig, kan in u harte daarvan seker wees dat God u hierin sal bystaan.

Hoor dan nou uit die Heilige Skrif hoe ‘n eerbare instelling van God die huwelik is en dat dit Hom behaag. Daarom het Hy beloof om die getroudes te seën en hulle by te staan, maar die wat egbreuk pleeg en buite-egtelik lewe, oordeel en straf Hy.

Ten eerste moet u weet dat God, ons Vader, nadat Hy die hemel en alles daarin en die aarde en alles daarop, geskep het, die mens as sy beeld gemaak het. God het hulle ook geseën en vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip. Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n helper maak, sy gelyke.” Toe het die Here God ‘n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe ‘n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ‘n vrou en bring haar na die mens toe. Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.” Daarom sal ‘n man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.’

U moet nie daaraan twyfel dat die huwelik God die Here behaag nie, want Hy het vir Adam sy vrou geskep, haar self na hom toe gebring en haar aan hom as vrou gegee. Hieruit is dit vir ons duidelik dat Hy self vandag nog, as ‘t ware met sy eie hand, aan elkeen sy vrou gee. Ook het die Here Jesus Christus, met sy teenwoordigheid, deur gawes en ‘n wonderteken by die bruilof te Kana in Galilea laat blyk dat die huwelik deur almal as ‘n eerbare instelling beskou moet word en dat Hy altyd sy hulp en bystand aan die getroudes wil verleen, selfs wanneer hulle dit glad nie verwag nie.

Ten tweede, om so te lewe dat God u huwelik sal seën, moet u verder weet met watter doel God die huwelik ingestel het:

In die eerste plek dat die een die ander getrou kan help en ondersteun in alles van aardse en ewige betekenis; in die tweede plek, dat indien God kinders in die huwelik gee, hulle opgevoed kan word in ware kennis van en eerbied vir God, sodat hulle Hom kan eer en deur Hom gered kan word; in die derde plek, dat almal kuis en beheersd kan lewe en dus nie skuldgevoelens hoef te hê nie — so kan ‘n mens alleen lewe as man en vrou net aan mekaar behoort. Daarom is dit die wil van God dat almal wat volwassenheid bereik het, behoort te trou, tensy hulle buite die huwelik kuis en beheersd lewe.

Sodoende word die tempel van God, dit is ons liggaam, nie beskadig nie — immers as iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf. So ‘n huwelik moet gesluit word volgens die burgerlike reg en kerklike orde, met die instemming van ouers of voogde en met medewete van familie en vriende.

Ten derde moet u weet wat die verpligtinge van die een teenoor die ander volgens die Woord van God is.

Enersyds moet u as man weet dat God u die hoof gemaak het, sodat u u vrou na die beste van u vermoË kan lei, help, onderskraag en beskerm. Soos Christus as hoof sy gemeente lei, troos en beskerm, so moet u as hoof in u huwelik optree. U moet u vrou liefhê, soos die hoof die liggaam liefhet — so het Christus sy liggaam, sy gemeente lief. Moenie die lewe vir haar bitter maak nie, maar leef verstandig met haar saam. Bewys eer aan haar as die swakker geslag wat saam met u deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder.

Aangesien God in sy Woord beveel het dat die mens hard moet werk om ‘n bestaan te maak, moet u getrou en ywerig u beroep beoefen. So leef u naby God, kan u op ‘n eerbare wyse voorsien in die lewensonderhoud van u huisgesin en ook iets oorhou om aan dié te gee wat gebrek ly.

Andersyds moet u as vrou weet hoe u volgens die Woord van God teenoor u man moet optree. U moet u man liefhê, hom eer en hom gehoorsaam bystaan in alle sake wat reg en billik is. So is die liggaam immers ook aan die hoof en die kerk aan Christus onderdanig. U moet nie oor u man baasspeel nie. God het Adam eerste gemaak en Eva as sy hulp. Na die sondeval was God se opdrag aan Eva dat sy haar met die wil van haar man moet vereenselwig en dit geld vandag nog vir elke vrou.

Hierdie opdrag van God moet u nie verontagsaam nie. U moet dit gehoorsaam en die voorbeeld navolg van die gelowige vroue in die ou dae, soos byvoorbeeld Sara, wat hulle vertroue op God gestel het en na hulle mans opgesien het. U moet u man ook help met alles wat goed en reg is, en aan u gesin en huishouding die nodige aandag gee. Verder moet u ordelik, eerbaar, sonder wêreldse uitspattigheid lewe, sodat u vir ander ‘n goeie voorbeeld van deugsaamheid kan wees.

Die huweliksbevestiger vra nou die bruidspaar:

N en N, u weet nou dat God die huwelik ingestel het en u het gehoor wat Hy van u verwag. Getuig u voor almal hier teenwoordig dat dit u ernstige voorneme is om in u huwelik so te lewe en wil u dat u huwelik nou bevestig sal word?

Antwoord: Ja.

Die huweliksbevestiger rig hom/haar nou tot die aanwesiges:

U is almal getuie daarvan dat daar regtens geen beletsel teen hierdie huwelik is nie.

Die huweliksbevestiger rig hom/haar nou tot die bruidspaar:

Terwyl dit so is, kan u huwelik nou bevestig word.

Die Here God sal die voorneme wat Hy aan u gegee het, bevestig, daarom begin u huwelik in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.

Die huweliksbevestiger rig hom/haar nou tot die bruidegom:

N, verklaar u, dat sover u weet daar regtens geen beletsel is teen u voorgenome huwelik met N hier teenwoordig nie, en dat u almal hier teenwoordig roep om getuie te wees dat u N as u wettige vrou neem? Beloof u voor God en almal hier teenwoordig, dat u haar as u vrou neem? Beloof u dat u haar nooit sal verlaat nie, dat u haar sal liefhê en getrou sal onderhou, soos ‘n getroue en gelowige man aan sy vrou verskuldig is? Beloof u verder dat u kuis met haar sal saamlewe en altyd aan haar getrou sal bly, soos die Woord van God dit van u vereis?

Wat is hierop u antwoord?

Antwoord: Ja.

Die huweliksbevestiger rig hom/haar nou tot die bruid:

N, verklaar u, dat sover u weet daar regtens geen beletsel is teen u voorgenome huwelik met N, hier teenwoordig nie, en dat u almal hier teenwoordig roep om getuie te wees dat u N as u wettige man neem? Beloof u dat u hom gehoorsaam sal wees, hom sal ondersteun en bystaan en hom nooit sal verlaat nie. Beloof u verder dat u kuis met hom sal saamlewe en altyd aan hom getrou sal bly, soos die Woord van God dit van u vereis? Beloof u voor God en almal hier teenwoordig dat u hom as u man neem?

Wat is hierop u antwoord?

Antwoord: Ja.

Die huweliksbevestiger rig hom/haar nou tot die bruidspaar:

Gee mekaar die regterhand.

Hierna sê hy/sy:

Ek verklaar dat N en N hier teenwoordig regtens getroud is.

Die barmhartige Vader wat u deur sy genade tot hierdie huwelik geroep het, verbind u aan mekaar met opregte liefde en trou en mag Hy u seën. Amen

Hoor nou uit die evangelie soos Matteus dit beskrywe, hoe sterk die band van die huwelik is: ‘Daar was Fariseërs wat Hom op die proef wou stel, en hulle kom toe by Hom met die vraag: “Mag ‘n man sommer oor enige ding van sy vrou skei?” Hy het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?” Daarby het Hy gesê: “Daarom sal ‘n man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees. Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie.”

Hulle vra Hom toe: “Waarom het Moses dan bepaal dat, as iemand sy vrou ‘n skeibrief gee, hy van haar kan skei?” Hy antwoord hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie. Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met ‘n ander een trou, pleeg egbreuk.”’

Gee ag op hierdie woorde van die Here Christus en wees seker daarvan dat ons Here God u in hierdie eerbare instelling saamgevoeg het. Daarom moet u alles wat daarin met u gebeur, aanvaar as komende uit die hand van God — as dit teëspoed is, met geduld, as dit voorspoed is, met dankbaarheid. So sal alles tot u beswil en saligheid geskied.

Aangesien ons nie uit onsself tot so ‘n huwelik in staat is nie, laat ons nou almal saam met u en vir u tot die Here bid:

Gebed

Almagtige God, U betoon u goedheid en wysheid in al u werk en instellings. Daarom het U in die begin gesê dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie en het U vir hom iemand, sy gelyke, gemaak wat hom kan help. U het ook bepaal dat hulle twee één sal wees.

Barmhartige God, U het hierdie egpaar tot die instelling van die huwelik geroep en saam verbind. Ons bid dat U wat alle onkuisheid straf, aan hulle u Heilige Gees sal gee, sodat hulle in ‘n ware en vaste geloof heilig sal lewe en alle boosheid sal teenstaan, net soos U dit wil hê. Seën hulle ook, soos U die gelowige vaders Abraham, Isak en Jakob wat u vriende en getroue dienaars was, geseën het. U het hierdie egpaar mede-erfgename gemaak van die verbond wat U met die vaders opgerig het. Ons bid dat U aan hulle die genade sal verleen om die kinders, wat U aan hulle mag gee, gelowig op te voed tot eer van u heilige Naam, tot opbouing van u gemeente en tot die uitbreiding van u evangelie. (Verval byvoorbeeld met die huweliksbevestiging van bejaardes).

Verhoor ons, barmhartige Vader, deur Jesus Christus, u geliefde Seun, ons Here. 

Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap