N en N, dit was u begeerte dat u huwelik in die Naam van God bevestig moet word. Daarmee gee u te kenne dat u in gehoorsaamheid aan die Woord van God as man en vrou wil saamwoon. Om só in die huwelik saam te lewe, is dit nodig om te weet wat die Heilige Skrif oor die huwelik leer, sodat u kan verstaan wat God se bedoeling daarmee is en watter verantwoordelikhede daardeur op getroudes gelê word.
Eerstens leer die Bybel ons dat God die mens man en vrou gemaak het en dat Hy self die vrou na haar man toe gebring het en haar aan hom as vrou gegee het. Daarmee getuig die Skrif dat die huwelik ’n instelling van God is en derhalwe nie gegrond is op menslike goeddunke nie, maar op God se wysheid, goedheid en liefde. Elke gelowige egpaar kan dus ook verseker wees dat God hulle tot die huwelik geroep het. Daarom moet u ook nooit twyfel nie aan God se hulp en bystand onder alle omstandighede. Hoewel God ons tot die huwelik roep en lei, sluit dit nie ons eie verantwoordelikheid uit by ons keuse van mekaar nie. So het Adam ook sy vrou uit die hand van God ontvang toe hy uitgeroep het: dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. As die Skrif verder sê dat ’n man sy vader en sy moeder sal verlaat en saam met sy vrou sal lewe, en dat hulle twee een sal word, wil dit daarmee getuig dat die huwelik ’n alles insluitende gemeenskap is tussen net een man en een vrou. Met die oog daarop het Jesus gesê dat wat God saamgevoeg het, die mens nie mag skei nie. Ook op ander plekke in die Bybel verneem ons die duidelike getuienis dat die huwelik ’n onverbreekbare en onophefbare verbintenis is vir die ganse duur van ons aardse lewe.
Tweedens moet ons nou verder vra na God se bedoeling met die huwelik. God het die mens só gemaak dat hy of sy nie eensaam sal wees nie en sodat ons ons lewenstaak op aarde tot lof en eer van ons Skepper moet vervul. Met die oog op hierdie taakvervulling het God aan man en vrou wedersyds ’n paslike helper gegee, deur die instelling van die huwelik. Hierdie hulp omvat alles op die vlak van die menslike lewe. Dit sluit onder andere die verantwoordelike bou van gelowige huisgesinne in, as dit God mag behaag om ’n huwelik met kinders te seën. Maar die wedersydse hulp van man en vrou sluit ook die kerklike lewe in, sodat albei ook vrugbaar besig mag wees om die kerk van die Here in die wêreld op te bou.
Derdens is dit nodig dat u sal weet hoe u houding teenoor mekaar in die huwelik moet wees. In die kerk oor die algemeen, maar veral binne die huwelik, moet ons mekaar se laste dra, moet ons mekaar verdra, moet ons geduld teenoor mekaar beoefen en bereid wees om mekaar altyd te vergewe. Ons moet mekaar liefhê, maar daarby nooit vergeet nie dat dit nie ons liefde is nie, maar God se liefde wat ons huwelik dra. In die gelowige erkenning hiervan mag ons liefde vir mekaar ook iets vertoon van die liefde waarvan die apostel getuig: dat dit nie sy eie belang soek nie, dat dit nie verbitter word nie en dat dit nie boekhou van die kwaad nie.
Daarbenewens moet die bruidegom weet dat God u as hoof van u vrou gestel het. Om te begryp wat dit beteken, moet ’n mens dit in verband bring met Christus wat die Hoof van sy kerk is. Hy het medelye met die swakhede van die kerk en Hy staan sy kerk helpend en versorgend by. So moet u ook met deernis en begrip teenoor u vrou optree. U moet haar bystaan, beskerm, versorg, onderrig en vertroos. Een van u vernaamste verantwoordelikhede is die materiële versorging van u gesin. Daarom moet u getrou wees in die beoefening van u beroep, sodat u nie net in die behoeftes van u eie huis kan voorsien nie, maar ook vir die instandhouding van die huis van die Here en vir die diens van barmhartigheid goeie gawes beskikbaar mag hê.
En wat die bruid betref, u moet u man onderdanig wees. Dit beteken geen slaafse onderworpenheid nie. ’n Mens moet dit eerder verstaan as bereidheid tot diens, soos die geval ook is met die kerk wat aan Christus onderdanig is. As vrou het u van God die besondere vermoë ontvang om met selfvergetende opoffering sorgend en versorgend te dien. Daarom is u eerste verantwoordelikheid die liefdevolle versorging van u man en moet u verder aan u hele gesin en huishouding die regte aandag gee. U moet u man in alles help wat reg en billik is, eerbaar lewe en teen weelderigheid waak. Onthou dat die waarde van ’n deugsame vrou ver bo korale is.
Wetlike vrae
N en N, noudat u weet dat God die huwelik ingestel het en wat Hy in sy Woord daaroor beveel, verklaar u hier voor die alwetende God en in teenwoordigheid van die Christelike gemeente dat u u huwelikslewe só wil lei soos God beveel het?
Antwoord: Ja.
Verklaar u, N (bruidegom), dat so ver u weet daar regtens geen beletsel is nie teen u voorgenome huwelik met N (bruid) hier teenwoordig, en dat u almal hier teenwoordig roep om getuie te wees dat u haar tot u wettige vrou neem? Wat is hierop u antwoord?
Antwoord: Ja.
Verklaar u, N (bruid), dat so ver u weet daar regtens geen beletsel is nie teen u voorgenome huwelik met N (bruidegom) hier teenwoordig, en dat u almal hier teenwoordig roep om getuie te wees dat u hom tot u wettige man neem? Wat is hierop u antwoord?
Antwoord: Ja.
Die huweliksbevestiger rig hom/haar nou so tot die bruidspaar:
Mag ons Here God die voorneme wat Hy u gegee het, bevestig, en mag die begin van u huwelik wees in die Naam van die Here wat hemel en aarde geskep het.
Gee mekaar nou die regterhand.
Afneem van die huweliksbelofte
N (bruidegom), u het voor God en almal teenwoordig verklaar dat u N (bruid) as u wettige vrou neem. Beloof u dat u haar sal liefhê, vir haar sal sorg, haar nooit sal verlaat nie en in lief en leed by haar sal bly; dat u vroom en in vrede met haar sal lewe en haar in alles getrou sal bly; dat u al u pligte as Christelike man na die beste van u vermoë sal nakom, soos God in sy Woord beveel? Wat is hierop u antwoord?
Antwoord: Ja.
N (bruid), u het voor God en almal teenwoordig verklaar dat u N (bruidegom) as u wettige man neem. Beloof u dat u hom sal liefhê, hom sal dien en help, hom nooit sal verlaat nie en in lief en leed by hom sal bly; dat u vroom en in vrede met hom sal lewe en hom in alles getrou sal wees; dat u al u pligte as Christelike vrou na die beste van u vermoë sal nakom, soos God in sy Woord beveel? Wat is hierop u antwoord?
Antwoord: Ja.
Ek verklaar dat N en N, hier teenwoordig, regtens getroud is. Mag die Vader van alle barmhartigheid wat u deur sy genade tot hierdie huwelik geroep het, u met opregte liefde en trou verbind en u sy seën gee.
Amen