Maria Magdalena het nie meer trane oor nie. Sy is moeg en gedaan en het uitgeput by die deur gesit en gewag dat die eerste sonstrale die horison in die ooste verkleur. Haar mandjie was reeds gepak: sagte linnedoeke, reukolie en ’n bossie veldblomme.

Die voëls het die nuwe dag aangekondig en sy het haastig opgespring en aangestap (amper gedraf) – graf toe…

Dit was ekstra stil dié Sondagoggend, so asof die aarde self bewus was van die dood van Jesus, en nog in hartseer en ongeloof versteen was in tyd.

Alhoewel Maria elke pynlike tree, elke sweephou, elke hamerslag en elke uitroep van Jesus se afgryslike lyding meegemaak het, was daar iewers diep binne-in haar ’n sprankie lig!

Wat was dit tog wat haar voete al vinniger na die tuin en graf gestuur het? Mag sy dit waag om hierdie fluistering hardop te dink? Was dit dan nie Jesus self se woorde nie (hoe onmoontlik dit ook al klink): Op die derde dag sal Ek weer opstaan! Is dit nie wat die profete ook voorspel het nie?

Net toe die son sy goudgeel kop oor die rante steek en die gloed die doudruppels laat skitter, staan sy voor die graf. Die graf is oop en die graf is leeg…

Die sprankie ontplof binne-in haar, die lig breek deur: Die profesie is WAAR! En sy gló!

***

Nie ver daarvandaan nie sit die gerespekteerde skrifgeleerde met sy gesig in sy hande. Bly dat die nag amper verby is en so die einde van die Sabbat aankondig. Nou kan hy weer die boekrolle ooprol en soek na Jesaja se profesie oor die messias wat sal kom… Die een wat die Jode sal verlos uit hul lyding en van Romeinse oorheersing.

Hy ken die geskrifte byna woordeliks.

Hy het sulke hoë verwagtinge gehad vir hierdie profeet Jesus. Hy kon die opregte liefde in sy oë sien wanneer Hy met die skare gesels. En sy skrifkennis was verstommend!

In sy hart het die hoop gegroei dat hierdie jong man die gestuurde was. Hy het selfs net ’n paar maande gelede vir Johannes die Doper genooi om met hom oor die koms van die messias te praat.

Hy moes natuurlik sy opgewondenheid in toom hou, want van ’n gesiene man en lid van die tempelraad sou sulke praatjies nie aanklank vind nie.

En nou is Jesus dóód! Sy vreeslike lyding was so onnodig en die volk is in twee geskeur! Die emosies, opsweping en tradisies rondom dié tyd van die jaarlikse fees het natuurlik daartoe bygedra. As Hy werklik die koning van die Jode was, sou Hy tog al die gebruike en wette nagekom het!

Die man sug diep en vee weer oor sy moeë oë. Sy hart is swaar.

Daar is ’n klop aan die deur wat hom laat skrik en hy weet instinktief dis nog slegte nuus. Dis die boodskappertjie van die tempel: Die stories versprei vinnig – maar dit blyk beslis waar te wees – Jesus se liggaam is gesteel uit die graf (al beweer party vroue dat Hy, soos Lasarus, opgestaan het uit die dood).

Die skrifgeleerde skud sy kop in ongeloof, dit gaan ’n lang week wees… as die feite maar net gepas het by die profete se woorde, dan kon hulle vandag ’n triomftog gestap het saam met ’n nuwe Koning!

Nou sal die koms van ’n redder ’n profesie bly.

Hy trek die boekrol van die rak af en begin soek na die tekens wat sal wys op die redder se koms, en wanneer dit verwag kan word…

***

Die profesie het waar geword, gaan jy Hom herken as Hy voor jou staan?

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

NHSV Streekvoorsitter Hoëveldstreek en predikantsvrou Gemeente Secunda

Share via
Copy link
Powered by Social Snap