Broers en susters in onse Here Jesus Christus 
Die begin van ‘n nuwe jaar gaan vir baie mense gepaard met sogenaamde nuwejaarsvoornemens. ‘n Gewoonte wat myns insiens al so ‘n bietjie holrug gery is, en miskien eerder al uitgedien moes gewees het. Maar hoe dit ook al sy, nuwejaarsvoornemens het steeds vir baie mense te make met bestekopname, met wat was en wat nog moet kom. En hoe dit wat kom, hanteer of beter hanteer moet word.

Daarom klink alle nuwejaarsvoornemens maar altyd min of meer dieselfde: dit het laas jaar skeefgeloop, en daarom gaan ek dit hierdie jaar so doen, en nie weer so nie. Of, dit het ek nog nooit probeer nie, daarom gaan ek dit hierdie jaar probeer. Dit gaan ek so doen, dat gaan ek so doen, of dit wil ek doen, en dit wil ek nie. Dit wil ek verander, en dit moet dieselfde bly.

So verstaan, broers en susters, is nuwejaarsvoornemens eintlik nie so ‘n uniek aangeleentheid nie, en kom dit ook nie net aan die begin van elke jaar voor nie. Hoekom nie? Want, as ek so pas min of meer reg was oor wat nuwejaarsvoornemens is, is nuwejaarsvoornemens tog niks anders as bepaalde keuses wat ‘n mens maak nie. Dit gaan doodeenvoudig oor keuses. En keuses, broers en susters, maak ons almal elke dag. Of ons nou wil of nie, of ons dit altyd besef of nie. Of ons dit bewustelik doen of nie. Keuses maak ons. Duisendes daarvan elke jaar, honderde elke dag. Of dit nou ‘n keuse is oor die kleur van brood wat ons gaan koop (dus triviaal), en of ek moet verhuis of nie (wat weer ‘n baie moeiliker besluit is). Keuses is deel van ons lewens.

Die gedeelte wat ons vanoggend gelees het, broers en susters, verstaan die saak van keuses in ons lewe op presies dieselfde manier. Al verskil, die Woord van God (en in besonder Galasiërs 5:13) gebruik hier net ‘n ander woord as daar van keuses gepraat word, naamlik die woordjie vryheid.

God, sê Galasiërs 5:13, het ons tot vryheid geroep. Of anders gesê: God, sê Galasiërs 5:13, gee aan ons die vryheid om te kies. Die vryheid om in wese enige keuse in ons lewens te maak. Keuses lê dus in hulle ontelbare voor ons oop. Daardie ruimte gee God ons.

Maar nou weet ons egter ook, broers en susters, dat vir die kind van God hierdie vryheid nie beteken dat ‘n mens nou sommer net kan gaan doen wat jy wil, of kan kies wat jy wil nie. Want die vryheid wat God aan sy kinders gee, is nie ‘n vryheid wat maar net alles toelaat nie. Nee dit is ‘n vryheid wat aan ons geskenk is op Golgota. Wat aan ons geskenk is deur Jesus Christus aan die kruis.

Dit is ‘n vryheid wat sê: julle is nou met God versoen, julle is nou gered, julle is nou verlos, en as hierdie verlossing werklik deel van julle lewens geword het, sal julle julle vryheid nie anders gebruik as om vir God met julle hele lewens dankie te sê vir so ‘n onverdiende stuk genade nie. Dit is ‘n vryheid wat sê: God het ons nuutgemaak, ons die nuwe lewe gegee, en daarom gaan ons nou ons vryheid gebruik om soos nuwe mense te lewe.

Hoe lewe iemand wat nuut geword het in Jesus Christus? Dit is iemand, sê Galasiërs 5:16 wat toelaat dat sy/haar lewe deur die Gees van God beheers word, en daarom, sê Galasiërs 5:22, is die vrug van die Gees werklik in so iemand se lewe sigbaar.

Anders gesê:die nuwe mens kies, soos alle mense kies. Die nuwe mense maak keuses, soos alle mense keuses maak. Maar die nuwe mens maak sy/haar keuses op ‘n besondere manier: hy en sy doen dit soos God wil hê daar gekies moet en sal word. Onder leiding van die Gees, onder beheer van die Gees. En daarom sien ons in so iemand se lewe die vrug van die Gees.

Met dit alles gesê, broers en susters, kom ons begin weer waar ons vanoggend begin het. By nuwejaarsvoornemens. Hoe sal die nuwejaarsvoornemens lyk van iemand wat die vryheid deur God gegee nie misbruik nie, wat toelaat dat die Gees sy/haar lewe beheers? Hoe behoort iemand te kies, watter keuses behoort iemand vir die nuwe jaar te maak wat werklik in Jesus Christus nuut geword het?

Op grond van Galasiërs 5:2-23, broers en susters, meen ek behoort ‘n mens soos volg te kies:

Here, vir hierdie jaar kies ek die liefde. Ek gaan hierdie jaar geen geleentheid skep vir haat nie, en geen onregverdigheid gaan by my bitterheid veroorsaak nie. Nee, ek kies die liefde. Hierdie jaar gaan ek God liefhê, en ook dit wat God liefhet. God het my en sy kinders lief, daarom gaan ek hulle liefhê soos God my liefhet.

Here, verder kies ek hierdie jaar vir vreugde. Ek nooi U, Here, om die God van al my omstandighede te wees. Ek gaan die versoeking weerstaan om hierdie jaar sinies te wees, of toe te laat dat my omstandighede my negatief en ongelukkig maak. Ek sal weier om mense te sien as iets minder as skeppings van God, en ek sal weier om enige probleem te sien as enigiets minder as ‘n geleentheid om God daarin te sien.

Verder Here, kies ek hierdie jaar vir jaar vir vrede Ek aanvaar dat U vergewe, daarom sal ek lewe asof vergewe. En, ek sal lewe om te vergewe, en vergewe sodat ek kan lewe. Want ek weet Here, vergewe rym met die skep en gee van lewe.

Verder Here, kies ek geduld. Ek sal al die ongerieflikhe-de, die somse gesloer, die eentonigheid, verveligheid, die klein irritasies van die lewe oorsien. Eerder as om te kla dat ek moet wag, sal ek God loof vir ‘n oomblikkie van rustigheid waarin ek met Hom besig kan wees. En in plaas daarvan om my te vervies vir wie of wat ook al, ek sal vreugdevol U pad vir my aanvaar.

Ek kies vir die nuwe jaar ook vir vriendelikheid, Here. Ek sal goed wees vir hulle wat minder as ek het, want hulle is dikwels alleen. Net so sal ek goed wees vir hulle wat baie meer as ek het, want hulle is dikwels bang en net so alleen. En barmhartigheid sal daar altyd by my wees vir die onbarmhartiges, want dit is immers hoe God my behandel.

Verder kies ek vir goedheid/goedhartigheid. Ek sal sonder dit klaarkom Here, wat ek nie met eerlikheid en harde werk kan bekom nie. Ek sal dinge ongemerk doen eerder as om te spog. En ek sal bely voor ek beskuldig.

Ook Here, kies ek vir getrouheid. Ek gaan elke dag my beloftes nakom. Niemand sal spyt wees dat hulle my vertrou het nie. Niemand sal rede hê om my woord in twyfel te trek nie. My gesin sal nooit aan my liefde twyfel nie, en my kinders sal nooit vrees dat ek as ouer nie daar vir hulle sal wees nie.

Dan Here, kies ek graag ook vir, en veral vir nederigheid. As ek my stem verhef, laat dit net wees om u te loof. As ek iets eis, sal dit net van myself wees. En as ek roem, laat ek net in die Here roem. Nooit sal ek van myself meer dink as wat ek moet nie.

Ten slotte Here, kies ek — as een van my nuwejaarsvoornemens — selfbeheersing. Ek weet Here, dat ek eendag gaan sterf, maar ek weet ook my gees sal altyd by U wees. Daarom sal ek weier om toe te laat dat dit wat vergaan, heers oor dit wat ewig is. Daarom sal ek net van vreugde dronk word, sal ek net deur geloof aangevuur word, net deur God beïnvloed word. En ek sal net deur Christus geleer word, en deur sy Gees beheer word. Daarom, Here, kies ek vir selfbeheersing.

Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, nederigheid. Dit Here, is my voornemens vir elke dag vir die jaar wat voorlê. As ek dit regkry, sal ek God daarvoor dank. Waar ek faal, sal ek om genade smeek. Maar ek, ek kies vir God.

Is dit, broers en susters, hoe u nuwejaarsvoornemens gelyk het toe u dit aan die begin van die jaar gemaak het? Of dalk het u, soos ek, glad nie voornemens vir die nuwe jaar gehad nie. Maar nou het ek, en ek nooi u uit om hierdie voornemens saam met my uit te leef.

Want bo alles het God se kinders mekaar nodig. Ons het nodig om dieselfde dinge te wil doen, te wil uitleef. Ons het mekaar nodig om mekaar aan te moedig. Om mekaar tereg te wys en aan te spoor. Anders is ons alleen. En dit wil niemand wees nie.

Mag hierdie nuwejaarsvoornemens hierdie jaar in u lewe waar word. Want dan ontvang God alleen die eer! 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap