Grendeltyd. ’n Woord met soveel verskillende betekenisse wat soveel emosies by mense ontlok. Agter slot en grendel, inperkingstyd, nadink-tyd, hartseertyd. Watter betekenis het die grendeltyd vir jou?

Aanvanklik was almal geskok. Nog nooit het so iets met my gebeur nie! Vir die eerste paar weke was dit wonderlik. Studente en skoliere het die laatslaap-oggende geniet, die niksdoen voor die televisie en al die verskillende disse wat in die toetskombuis voorberei is. Vir die tuisteskepper was dit ’n gulde geleentheid om al die kaste reg te pak, koekblikke vol te maak en die hele gesin se teenwoordigheid om haar te voel. Vir ons kleuters is dit ’n tyd waarin hulle nie kan verstaan waarom hulle nie die skoolvakansie na Oupa en Ouma kan gaan nie, so verstaan Oupa en Ouma dit ook nie.

Die inperking is ’n agter-slot-en-grendel-tydperk vir oud en jonk, siek en gesond; ’n werklikheid vir almal. Hoe ons dit gaan hanteer, daarmee gaan volhou en daarmee saamleef, is wat saak maak. Daar is baie aanpassings wat ons reeds moes maak en steeds moet maak. Om ons veilig en gesond te hou, is omtrént ’n roetine in die oggend. Maskers dra, hande was en afstand hou. Ons nuwe, gemaskerde normaal het my herinner aan Herman Holtzhausen se 1984-liedjie, Mense met maskers. Toe hy hierdie liedjie geskryf het, was daar nog geen sprake van die koronavirus nie. Tog sê die woorde van die liedjie iets van ons huidige gemaskerde werklikheid:

Vir my is die lewe net ’n spel waar elkeen van sy eie rol vertel.
Daar’s tyd en daar’s ’n doel met iedere een en elkeen dra ’n masker saam hom heen.

Refrein:
Mense met maskers, jy en ek, een vir elke situasie, elke plek,
die een met die heel sterkste band, is die een met die hef in elke hand.

Kyk, daar is karakters van elke soort, daar is goed en sleg, kies waar jy hoort.
Ons hart het lief en lag en huil, wyl elkeen agter sy masker skuil.

Refrein:
Mense met maskers, jy en ek, een vir elke situasie, elke plek,
die een met die heel sterkste band, is die een met die hef in elke hand.

Waarom staar ons blind en hoor ons doof, is almal dalk van verstand beroof?
En waarheen aan die einde van die dag, wanneer elkeen sy masker sal moet lig?

Refrein:
Mense met maskers, jy en ek, een vir elke situasie, elke plek,
die een met die heel sterkste band, is die een met die hef in elke hand.

Ons sou ons nie kon indink dat ons in 2020 gemaskerde gelowiges sou word nie. Die omstandighede maak ons soms kwaad, ontsteld of mismoedig. Tog het ons as gelowige mense soveel om aan vas te hou. Ons het ook ’n keuse. Ons kan in hierdie tyd agter ons maskers skuil. Ons kan ons blind en doof hou vir alles rondom ons. Maar eendag gaan ons die maskers weer lig, en ons het nou al ’n verantwoordelikheid teenoor mekaar.

Laat ons daarom maskers dra. Maskers van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

NHSV Streekvoorsitter: Noordwes

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link