Iemand sê nou die dag hulle gaan nie ’n 2021-jaarbeplanner koop voor hulle nie eers ’n voorskou van 2021 gesien het nie. 2020 het ons geleer dat jy kan beplan, maar jou planne werk nie noodwendig uit nie.

Grappenderwys het ons verduidelik dat toe ons Ja gesê het vir 2020, het ons nie die bepalings en voorwaardes mooi gelees nie. Dit lyk of 2021 sy eie stel bepalings en voorwaardes het wat ons gaan verras.

Die virus het ons almal al op die een of ander wyse geraak, hetsy finansieel of emosioneel, en baie van ons het al ’n geliefde aan die dood afgestaan as gevolg van die virus. In ’n stadium het ons kennis geneem van statistieke en syfers, maar tydens die tweede vlaag kon ons name en gesigte by die statistieke sit. Die trauma wat ons op verskillende vlakke ervaar, is enorm.

Die vraag is: Wat nou? Ons moet aangaan. Hoe ons die krisis hanteer, hang in ’n groot mate af van ons gesindheid – hoe ons na dinge kyk. Hoe sou jy jouself beskryf? Is jy iemand met ’n positiewe of ’n negatiewe gesindheid? Is jy ’n glas-halfvol- of glas-halfleeg-persoon? Staan jy bekend as iemand wat ten gunste van sekere goed of altyd teen alles is? Jy weet, om altyd teen goed te wees, vat geweldig baie energie. Dit is soos ’n kar waarvan jy die petrolpedaal trap en trap, maar die kar gaan nêrens heen nie, en dit is net rook wat by die uitlaatklep uitkom. Maar wanneer ek ’n positiewe gesindheid het, het ek soveel meer energie; ek is ’n plesier vir mense om by te wees; ek trek positiewe mense aan na my toe; ek geniet my werk; ek bereik my doelwitte wat ek vir myself stel; en ek is oor die algemeen ’n gelukkiger en aangenamer persoon.

Kom ek vra jou: Hoe voel jy oor bye? Bye maak baie van ons senuweeagtig. Baie van ons is allergies vir ’n bysteek. So, bye het nogal ’n slegte reputasie, want die steek van ’n by kan nogal pynlik wees. Maar aan die ander kant speel bye ’n belangrike rol in die omgewing. Bye produseer heuning en was, wat albei groot medisinale waarde het. Maar nie net dit nie, bye dra stuifmeel van een plant na die volgende, en ons het nodig dat hulle dit doen. As jy hou van bessies, appels, aarbeie, brokkoli, neute en aspersies, het jy nodig om vir die bye dankie te sê. Hulle is baie belangrik vir die voedselketting. ’n Derde van wat ons eet, is te danke aan bye wat doen wat hulle doen.

Net soos bye stuifmeel oral versprei, is ons ook geroep om die Goeie Nuus van Jesus te versprei. Ons is geroep om ’n verskil in die wêreld te maak. Ons is geroep om liefde en lig te versprei en hoop te bring. Een ding wat die wêreld op die oomblik desperaat nodig het, is hoop. En ons kan vir mense hoop bring, want ons het die hoop van Christus wat in ons lewe.

Toets ’n bietjie hoe jy praat. Wanneer jy praat, hoe klink jy? Is jy negatief? Praat jy die koerante na en vertel jy hoe sleg dinge gaan en hoe hopeloos alles is? Versprei jy fopnuus en dinge wat jy sommer so lukraak op sosiale media lees sonder om te toets of dit waar is? Of is jy iemand wat positief praat? Wat hoop bring en mense se gees optel in plaas van verder afbreek?

Jou gesindheid is jou venster tot die wêreld en hoe jy dinge sien. Ons almal begin met ’n skoon venster, maar soos ons ouer word, begin daar vuiligheid aanpak. Ons vensters word besmeer deur kritiek van ons ouers en onderwysers; dit word besmeer deur teleurstellings; dit word besmet deur twyfel.

Die probleem is dat die vuiligheid bly oppak en dat te veel van ons niks daaromtrent doen nie. Ons hou aan om deur die lewe te gaan met aaklige vuil vensters. Ons verloor ons entoesiasme; ons raak gefrustreerd en depressief en, die ergste van alles, ons gee op, ook oor ons drome. Dit net omdat ons nie ons “gesindheidsvenster” skoongemaak het nie. Tog kan die uitkoms verander word, as ons net gewillig is om ons gesindheid te verander en ons “venster” skoon te maak en al die vuiligheid te verwyder. Gebruik jou Godgegewe “squeegee”

Romeine 12: 2 sê: Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Die “squeegee” wat ons verder help om die venster van ons gesindheid skoon te maak, is Filippense 4: 8: …alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

In plaas van om te sê Ek kan nie,Ek kan! In plaas om te wys op probleme, soek na oplossings; in plaas van om fout te vind met ander, soek na die goeie in ander; in plaas van om te fokus op dit wat jy nie het nie, fokus op jou seëninge; in plaas van om die beperkinge te sien, sien die geleenthede.

Onthou: Jou gesindheid is jou venster tot die wêreld. As jy nie die rigting van die wind kan verander nie, span die seile anders in, sodat jy steeds jou bestemming kan bereik.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link