Jare gelede, toe ek verloof was aan my tokkelok, het die ou “duiwel” op my skouer gesit en my probeer oortuig dat ek nie my rol as predikantsvrou sal kan vol staan nie.

My ervaring van predikantsvroue was altyd van vroue met selfvertroue, vroue wat alles kan raakvat, georganiseerde vroue, en vroue wat lyk of hulle glad nie bang is om voor die gemeente te staan en praat nie.

As jong meisie het ek skielik baie onseker gevoel. Kan ek soos hierdie vroue wees? Ek is nie goed met organiseer nie, ek weet nie eens hoe om ’n vergadering te lei nie. Ek kan nie eens kook nie!

Een aand het ek saam met ’n vriendin na ’n Bybelstudiegeleentheid gegaan. Daar het die Here vir mý ’n boodskap gehad: Ek wil jou gebruik net soos jy is! Wow, daardie boodskap het my lewe verander.

So het ek besef ons aanbid God deur ander mense te dien. Hoekom sê ek so? Christus het ons geroep tot diens, om te dien soos Hy gedoen het. Ons lees dit in Markus 10: 45: Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense. Elke mens in wie ons elke dag vaskyk, is ’n kind van God vir wie Hy lief is. Daardie is die mense wat God wil hê ons moet dien.

Nou kan ons vra: Wat het ek? Wat kan ek doen en bied in terme van my diens aan ander? God het ons almal, al voor ons geboorte, toegerus met gawes. Gawes wat net joune is. Jy is spesiaal. Ek het tot die besef gekom dat ek nie soos ander hoef te wees nie. God ken my deur en deur, so hoekom myself verander? Hy het ons gemaak sodat ons wel ons bydrae kán gee.

Miskien is jy –

  • iemand wat goed planne kan uitdink;
  • iemand wat meer mensgeoriënteerd is, en jy weet dalk net wat om te sê of te doen om ander te troos of te versterk;
  • ’n agter-die-skerms-tipe mens wat altyd seker maak dat take gedoen word sonder dat mense dit agterkom;
  • goed met finansies;
  • gasvry; of
  • iemand wat goed kan skryf, sing of kook…

Of ons nou voor mense praat, of net saam met ’n hartseer vriendin koffie gaan drink, dit is ons manier om God te dien. Ons kan ons gawes gebruik om ’n impak te maak, selfs in ons daaglikse aktiwiteite.

Die groot verskil tussen hoe gelowiges teenoor ongelowiges hierdie gawes gebruik, gaan oor jou gewilligheid om op ’n onbaatsugtige manier deur God gebruik te word. Dis nie wat ons doen nie, maar hoekom ons dit doen. Ons doel is om God te dien en te eer – net soos Hy jou gemaak het, net soos jy is!

*** Lees Matteus 23: 11-12; 1 Korintiërs 12: 7; Kolossense 3: 23-24; Hebreërs 13: 15-16.

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

NHSV Streekvoorsitter: Oos-Transvaal

af
af
Deel met behulp van
Copy link