Toe Naomi as verarmde weduwee terugkeer uit Moab, was oorlewing haar belangrikste motief. Leeg in Rut 1: 21 beteken dat sy geen manlike familielede gehad het om vir haar te sorg nie. Sy neem selfs vir God kwalik. Sy noem Hom El Shaddai, wat “Almagtige” beteken maar ook impliseer dat God die Een is wat goed sowel as kwaad oor ’n mens kan bring. (Lees Rut 1: 21 en 4: 2-5.)
Dit is moeilik om te bepaal of Naomi geweet het van haar regte ten aansien van haar oorlede man se grond wat nog in Betlehem was, want vroue het nie van hul mans geërf nie (Deut 21: 17-19). Sy kon wel miskien iets soos vruggebruik oor die grond gehad het, want in Rut 4: 3 word gesê dat sy haar man se grond (of ’n aandeel daarin) verkoop. Die algemene opvatting is dat sy eerder as ’n soort “eksekuteur” in belang van haar twee oorlede seuns, wat opeenvolgend die grond van hul vader sou moes erf, opgetree het.
Wat ook al die posisie, Naomi, die meesterplanmaker, sou nie sonder ’n strategie die lang pad na Betlehem te voet aandurf nie. Miskien het sy beplan om die persoon wat nou die grond onder sy beheer gehad het (dit kon Boas gewees het), te nader om haar by te staan om iets daarmee te doen, sodat sy kon oorleef. Wat meer is, lyk dit by haar aankoms of haar ou vriende haar nie so hartlik ontvang nie. Niemand steek ’n helpende hand uit nie. Hulle skinder eerder agter haar rug, veral as hulle die vreemdeling by haar sien (Rut 1: 19), en sy word self ’n vreemdeling wat haar moet wend tot die gebruik van are optel ten einde te kan oorleef (Deut 24: 19 en Lev 23: 22). Die feit dat haar man die land wat God aan hulle gegee het, verlaat het vir ’n heidenland, is waarskynlik deur die gemeenskap afgekeur en as sondig beskou. Haar oorspronklike plan misluk jammerlik.
Met haar vertrek uit Moab gebeur iets wat nie by haar planne ingepas het nie: Haar skoondogter, Rut, weier om haar te verlaat. My vermoede is dat Rut se oënskynlike lojaliteit nie net te doen gehad het met ’n groot liefde vir haar skoonmoeder nie, maar wel met Rut se eie benarde posisie. Sy het op haar beurt moontlik ook geen manlike verwante gehad om vir haar te sorg nie. Haar man en skoonvader is dood, sy het self geen seuns nie, en uit Rut 1: 8 lei ons af dat Orpa en Rut elk net ’n moeder gehad het wat moontlik self hulpbehoewend was. (Die oorspronklike teks praat van “moederhuise”, wat myns insiens verkeerdelik verander is na “ouerhuise”. “Leë” moederhuise sou strook met die tema van die boek.) Naomi was nou haar enigste strooihalm om ’n heenkome te vind. Vir Naomi beteken dit dat sy nou twee monde het om te voed! Tevergeefs probeer sy vir Rut afskud. Sy sal nou van vooraf planne moet maak om Rut ook daarby in te pas. Hoe sy dit gedoen het, blyk uit die bekende verloop van die verhaal.
Die gebeure loop uit op die komiese en kunstige vertelling in hoofstuk 4. Die skrywer kombineer twee antieke gebruike (wat moontlik al uitgesterf het tydens die optekening van die verhaal). Die een is die lossingsreg soos opgeteken in Levitikus 25: 25 en Jeremia 32: 6-25, en die ander een die swaershuwelik (Deut 25: 5-10 en Gen 38: 6). Die lossingsreg bepaal dat die naaste familielid van ’n verarmde persoon ’n voorkoopsreg ten aansien van sy grond het, ten einde hom uit ’n finansiële verknorsing te help. Die swaershuwelik bring ’n verpligting mee op die broer van ’n oorlede man, naamlik om met die weduwee te trou, en sodoende die oorledene se familie en naam te laat voortleef. Eintlik is nie een van die twee gevalle werklik in die boek Rut van toepassing nie, want Naomi is nie die eienares van die grond nie, en nie Naomi of Rut is die skoonsuster van Boas nie!
Vir doeleindes van die geslaagdheid van die roman, het Boas (teen hierdie tyd smoorverlief op Rut, danksy Naomi se vindingryke inmenging) egter ook sy planne agtermekaar om met haar te kan trou. Daar is ’n klomp wette en gebruike wat in sy pad staan, wat hy eers sal moet omseil. ’n “Ander Ou” (in Hebreeus Peloni Almoni), kwansuis ’n nader familielid wat so onbelangrik is dat hy geen naam het nie, het die eerste reg op haar en die grond.
Myns insiens loop die skrywer met hierdie naamloosheidstrategie die uiteinde van die verhaal vooruit. Die leser vermoed dat ’n naamlose karakter onbelangrik is, en dat Boas, die romantiese held, as oorwinnaar uit die stryd sal tree in die wedloop om Rut se hand. Die wyse waarop hierdie gedeelte geskryf is, laat my altyd dink aan die manier waarop ons vandag nog vir mense vra of hulle eers die goeie en dan die slegte nuus wil hoor. Boas vertel vir die familielid dat hy die grond van Eliméleg (OAV) mag koop, moontlik teen ’n verminderde prys soos wat dikwels die geval is met ’n boedelverkoping. Peloni Almoni reageer opgewonde met ’n besliste Ja! Almal wou graag meer grond bekom.
Koorsagtig val Boas hom in die rede: Maar dan moet jy met Rut trou! Hy het geweet dat hierdie brokkie inligting die familielid se entoesiasme vir die grond sou afwater. Moontlik het Peloni Almoni gewonder: Nou wie’s Rut? Dit sou beteken het dat hý nou net nog ’n mond het om te voed, en dat sy bestaande kinders se erfporsies benadeel gaan word. Rut se kinders (wat as Eliméleg se nasate sou leef), sou die erfgename van die grond word. Dit klink heeltemal te ingewikkeld. Hy was glad nie op al hierdie gevolge voorbereid nie, en hy wys sy reg af.
Naomi kry ook haar sin, al het dit heeltemal anders gebeur as wat sy in haar oorspronklike menslike planne voorsien het. God het Rut saam met haar gestuur en Rut word die rede waarom, sowel as die instrument waarmee, Naomi haar planne verander, met goeie gevolg! God se plan was veel wonderbaarliker as wat Naomi in haar wildste planne kon bedink: Rut word die oumagrootjie van Dawid (aldus die verhaal), en Dawid die voorsaat van Christus! Vir Naomi het dit bloot gegaan om oorlewing, en God sorg uiteindelik ook vir albei vroue se oorlewing. God se plan was lankal gemaak, nog voordat Naomi se probleem ontstaan het! Die oplossing vir ’n probleem kom dikwels heeltemal in ’n ander gedaante na ons toe aangestap as wat ons in ons eie verbeelding kon bedink.
Waarom het dit alles gebeur? In Rut 2: 12 lees ons dat Boas vir die heidenmeisie, Rut, sê: Mag jy ’n welverdiende beloning ontvang van die Here die God van Israel onder wie se vleuels jy kom skuil het. Hebreeus is ’n besonder buigbare taal. Uit die volgende vertaling van hierdie vers blyk die ware betekenis dalk net mooier: Mag jy ’n welverdiende beloning ontvang van die Here die God van Israel, omdat jy onder sy vleuels kom skuil het!
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
