’n Goue ring wat tussen die wrakstukke van ’n derde-eeuse Romeinse skip ontdek is, het tot groot opgewondenheid onder argeoloë en historici gelei. Die rede vir die opgewondenheid is die feit dat die oudste voorstelling van Jesus op die edelsteen in die ring voorkom.
Die wrak van die skip waarin die ring gevind is, is naby die ou hawe van Caesarea ontdek. Die wrak, of minstens dít wat nog daarvan oorgebly het, is duidelik dié van ’n Romeinse skip wat deur ’n geweldige seestorm by die ingang van die hawe verwoes is.
Eintlik het marine-argeoloë twee skeepswrakke op dieselfde plek gevind. Albei skepe het in seestorms gesink. Die ander wrak dateer uit die Mamluktydperk in die 14de eeu. Die twee wrakke is skaars vier meter onder die water gevind.
Die twee skepe het waarskynlik in die moeilikheid beland tydens ’n storm en het net buite die hawe anker gegooi om die storm te trotseer. Matrose weet dat dit uiters gevaarlik is om tydens ’n storm nét buite ’n hawe in die vlak water te dryf. Indien die skip nie anker gooi nie, kan dit onvermydelik tot rampspoedige gevolge lei. Die twee skepe het met 12 eeue uitmekaar op presies dieselfde plek in ’n noodlottige seestorm beland en gesink.
Die goue ring wat in die wrak van die derde-eeuse skip gevind is, is uniek en verklap dat dit aan ’n welgestelde vrou behoort het. Benewens die ring is daar ook ’n skat van honderde brons en silwer Romeinse muntstukke uit die middel van die derde eeu gekry, ’n klein brons inkpotjie in die vorm van ’n arend, klokke wat die doel gedien het om bose geeste te verdryf, pottebakkersware, ’n Romeinse pantomimusbeeldjie (of teaterbeeldjie) met ’n komiese masker, en ’n anker wat uit yster gemaak is.
Nóg ’n item wat groot opspraak verwek het, is ’n rooi edelsteentjie met die ontwerp van ’n lier wat daarop aangebring is. In die Griekse mitologie het die lier as ’n simbool van Apollo gedien, terwyl die lier weer in die Joodse tradisie bekend was as Dawid se harp. Hierdie steentjie met sy simbool is tans bekend as die Harp van Dawid.
(Sien foto vir die afbeeldings van die Goeie Herder en die Harp van Dawid: Dafna Gazit, Israel Antiquities Authority.)
Die goue ring
Die goue ring is ’n baie rare vonds. Die band van die ring is in ’n dik vorm gemaak. Die steen is ’n groen edelsteen wat agtkantig in die goue band gemonteer is. In die groen edelsteen is die beeld van ’n jong man met ’n lam op sy skouers ingeëts. Hy is in ’n kenmerkende kort Romeinse jurk geklee. In die vroeë geskiedenis van die Christendom is Jesus dikwels as die Goeie Herder uitgebeeld – dit is inderdaad die oudste uitdrukking waarmee Jesus uitgebeeld word.
Caesarea was gedurende die derde eeu onder Romeinse beheer. Die stad het ’n verskeidenheid van godsdienste geken. Hoewel aanhangers van die Christelike geloof dikwels fel gedurende die derde eeu vervolg is vanweë hul geloof, was die inwoners van Caesarea baie meer verdraagsaam teenoor mekaar se godsdiens.
In die Nuwe Testament word ook na Caesarea verwys, waar die indruk gewek word dat daar ’n aktiewe Christengemeenskap in die stad was. In Handelinge 10: 1, 44-48 word na Cornelius verwys, wat ’n centurion (hoofman oor honderd) was, wat in Caesarea gebly het en daar deur Petrus gedoop is.
Die vrou aan wie hierdie duursame ring behoort het, was moontlik ’n Christen wat waarskynlik ook ’n inwoner van Caesarea was. Sy moes dan ’n passasier op die skip gewees het toe dié vaartuig in die seestorm gesink het.
Jesus as die Goeie Herder
Die vroeë Christene het met Jesus as die Goeie Herder geïdentifiseer na aanleiding van sy woorde in Johannes 10: 11 dat ’n goeie herder sy lewe vir sy skape sal aflê. Die uitbeelding van Jesus as die Goeie Herder kom meer as 300 keer in die meeste katakombes in Rome voor. Die uitbeeldings verskil ook net met geringe variasie.
In elke geval staan Jesus met ’n lam op sy skouers, terwyl nog twee tot vier lammers aan weerskante van Hom wei. Teen die agtergrond word gewoonlik een of twee poumannetjies uitgebeeld en ’n feniks wat oor hulle vlieg. Die feniks is ’n uitgestorwe Etiopiese voël. Dié voëls het as ’n sterk uitdrukking van die opstanding uit die dood gedien.
Die uitbeelding van Jesus as die Goeie Herder in Johannes 10: 1-9 en soortgelyke gelykenisse van ’n sorgdraende herder (Matt 18: 12-13 en Luk 15: 3-7), het duidelik tot die vroeë Christene gespreek. In die Christelike konteks is die beeld van ’n Goeie Herder met ’n goddelike beskerming geassosieer.
Vir die nuwe bekeerlinge tot die Christelike geloof het die beeld van die Goeie Herder die betekenis gehad dat Christus hulle sal beskerm omdat hulle in sy Naam gedoop is. Aan die einde van die tweede en begin van die derde eeu het die beeld van die Goeie Herder ook die betekenis van die opstanding uit die dood bygekry.
Die vrou aan wie die ring behoort het, se naam sal seker nooit vasgestel kan word nie. Al wat seker is, is dat sy ’n welgestelde vrou was, want dit was nie sommer enige mens beskore om oor so ’n duur ring te kon beskik nie. Die enigste ander afleiding wat gemaak kan word, is dat dié vrou deel van die vroeë kerk en die geloof van die eerste Christene was, en sekerlik in doodsangs moes verkeer het toe die skip deur die storm op see verwoes is. Sy moes sekerlik ook besef het dat hulle só naby die land was, maar ook nét te ver om veilige grond te bereik.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)