Jopie Fourie word as een van die bekendste Afrikanermartelaars beskou. ’n Held van die 1914-rebellie, met ’n kleurryke lewe van 36 jaar en ’n tragiese dood. In hierdie artikel (in twee dele) word sy verhouding met die Kerk, onder meer met gemeentes, kerkgeboue en predikante, en ons Kerk se SP Engelbrecht-museum, belig.
Joseph Johannes (bekend as Jopie) Fourie is gebore op 27 Augustus 1878 op die plaas Wildebeesthoek, Schurweberg, distrik Pretoria, 23 km noord van die Magaliesberg. Sy ouers was Joseph Johannes Fourie, bekend as Jozef (* 04.06.1851 † 23.03.1928) en Anna Sophia Margaretha Pretorius (* 16.07.1858, gedoop 17.10.1858 in NHKA Potchefstroom deur ds Dirk van der Hoff, † 12.01.1926); hulle is getroud te Heidelberg op 25 November 1875. Jopie word in 1878 in die eerste kerkie op Pretoria se kerkplein (wat in 1882 deur ’n storm en brand vernietig is) gedoop deur ds HS Bosman – toe nog die Nederduitsch Hervormde gemeente en kerkgebou en predikant. Doopgetuies was sy Fourie-grootouers, sy oom Johannes Petrus Fourie, en Jan en Elsie de Beer.
Jopie was reeds die vierde geslag met die familienaam; sy oupa was 15 jaar oud met die Slag van Bloedrivier, en hy boer sedert 1848 op Wildebeesthoek. In 1854 was oupa Joseph een van dié wat vra vir die stigting van die nuwe hoofstad en kerklike gemeente Pretoria. Hy is oorlede op 96 jaar en was baie betrokke by die Kerk – ook as katkisasiemeester. Met die kerkvereniging van 1885 het die Fourie-familie deel geword van die “Verenigde Kerk” van ds Bosman vir wie hulle reeds sedert 1876 baie goed geken het. Jopie was die oudste van vier kinders: Na hom volg sy suster Jacoba (Kotie), getroud met Pieter Alphonso Dames; sy broer Danie (Daniel Pieter); en kleinboet Hannes (Johannes Petrus) wat saam met hom gerebelleer het. Hulle het ook ’n aangenome sustertjie, Betta, gehad. Jopie se oupagrootjie (1794-1882) en oumagrootjie rus ook op die familieplaas.
Jopie lê moontlik op 16-jarige ouderdom in 1894 belydenis van geloof af in die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Gemeente Pretoria, in die sierlike, imposante (en laaste) kerkgebou op kerkplein, by ds Bosman, hul familiedominee. Die betrokke inskrywing kon egter nog nie opgespoor word nie. Ook nie in NG Bloemfontein nie, waar hy in 1895 saam met generaal Piet Joubert se seun, Jan, aan Grey Kollege studeer het, of in NG Stellenbosch se lidmaatregister nie, toe hy in 1896 daar aan die Victoria Kollege ongelukkig nie daarin kon slaag om sy matriek te verwerf nie.

Terwyl hy met Kersverlof in die Transvaal was, help hy die Jamesoninval van 29 Desember 1895 tot 2 Januarie 1896 stuit; trouens, hý het die brief gedra waarin Jameson beveel is om onvoorwaardelik oor te gee. In Pretoria in 1897-’99 het hy in die kantoor van die ouditeur-generaal gewerk, en hy het gaan veg as soldaat in Swaziland. Telkens wanneer hy in Pretoria op skool was of gewerk het, het hy by kommandant-generaal Joubert se huis (skuins oorkant die plek waar die Pretoria Stadsaal vandag staan, en waar ds Goddefroy se pastorie vroeër was) geloseer. Tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 was hy rapportryer op generaal Joubert se personeel en neem hy aktief deel aan verskeie veldslae, totdat hy bokant sy knie gewond is, wat hom vir die res van sy lewe effe mank laat loop het. Ná die oorlog lê hy hom toe op die boerdery op die familieplaas.
Jopie word op 22 April 1903 in die Groot Kerk op kerkplein (van die inwyding 23 Januarie tot 7 Desember 1885 was dit nog ’n Hervormde kerkgebou, die eerste kerkgebou noord van die Vaalrivier met ’n toring) deur ds HS Bosman in die huwelik bevestig met Susanna Elizabeth Carolina (bekend as Susan of Susy) Engelmohr (* 03.07.1880 Pretoria † 26.03.1952 te Brits aan haar hart, en daar begrawe). Tot hul groot verdriet was hul huwelik kinderloos. Hul trouringe word in ons SP Engelbrecht-museum bewaar sedert Maart 1978 toe Susan se dogter uit haar tweede huwelik, Sannie van der Merwe (* 10.03.1921 † 18.11.2016 Ellisras), en haar eggenoot Japie, wat albei in die NHKA was, dit saam met ander kosbare geskrifte, foto’s en memorabilia geskenk het. Jopie se ring het die inskripsie “Susy en Jozef 22.4.03”, en Susan se ring “Mrs J Fourie”. (Die Van der Merwe-egpaar se seun is met wyle ds Eddie Vosloo en sy vrou, Annatjie, se dogter getroud.)
Susan was die dogter van Carl Wilhelm Theodor Engelmohr (* ca 1855 Duitsland † 12.09.1941 in ’n huis waar Jopie-hulle ook soms gewoon het en wat vandag nog staan by Ben Swartstraat 924, Villieria), en Susanna Elizabeth Adriana Vorster (* ca 1860 † 06.09.1918 Pretoria), kleindogter van Andries Pretorius van Bloedrivier. Susan was ’n niggie van die bekende ouderling Heinrich Engelmohr van die NHKA Gemeente Pretoria by Du Toitstraat. Susanna Engelmohr, as weduwee Fourie, trou na 1917 met Frederik Jacobus Wilhelm (bekend as Frits) Pistorius (* 13.10.1873 Rustenburg † 15.3.1955). Pistorius was in die Gereformeerde Kerk Zoutpansdrift, vandag Krokodilrivier. By wyse van sy eerste huwelik met Jienie Christina Hermann (* 8.12.1878 † 15.3.1917 Roodekopjes/Rooikoppies, Brits) was hy die oupa van mev Jienie Oberholzer, die eggenote van wyle prof Bart Oberholzer, en ook die oupa van ds Hennie Visser, mev Oberholzer se broer.
Jopie se ou skoolvriend en mede-lidmaat van ds Bosman se gemeente, Jan Joubert, het gewoon in Les Marais (vandag staan die huis nog op die noordoostelike hoek van Mansfieldlaan en Booysenstraat). Jan se ma, die weduwee van kommandant-generaal Piet Joubert, Drienie (1830-1916), skenk in 1905 ’n satellietkerkgebou in Eloffstraat, digby Jan se huis in die Moot, vir die Moot-inwoners en dié ten noorde van Pretoria, daar waar Jopie-hulle se plaas was, wat nie Sondae by die NH of G Grootkerk Bosmanstraat (sedert 1904) kon kom nie. Hier was Jopie en Susan sedert 1911 lidmate in Gemeente Eloffsdal. Vir ’n rukkie na hul troue en voor 1911 het die jong egpaar by Boskop, vandag in Pretoria-Oos, geboer en gevolglik was hulle toe weer in NH of G Gemeente Pretoria in Bosmanstraat. In 1953 het hierdie Eloffsdal-kerkie ’n NHKA-gebou van Gemeente Wonderboompoort geword.
(Deel 2 verskyn volgende maand)
(Ds C Johann de Bruin is kurator van die SP Engelbrecht-museum)