Wanneer ons dink aan ’n dinamiese Christenvrou, dink ons soms dat hier sprake is van twee figure wat hoegenaamd nie by mekaar kan pas en ’n suksesvolle plek in die samelewing kan vol staan nie. Toe nou nie – dit is 2025 en die reëls het lankal verander.
In 2025 is die moderne Christenvrou ’n dinamiese figuur wat haar geloof en daaglikse lewe kan balanseer. Soms met ’n glimlag, soms met trane. Ja, ’n Christenvrou mág werk en suksesvol wees daarin. Sy mág haar eie loopbaan hê en sy mág haar werk geniet. Soms word sy veroordeel oor die besluite wat sy maak, of oor die besluite wat sy nié maak nie.
Sy is nie net ’n vrou of ’n moeder wat haar familie ondersteun nie, maar ook ’n leier in haar gemeenskap, werkplek en die kerk. ’n Vrou wat God in haar hart dra en al haar planne met Hom deel.
Deur die jare het die rol van die Christenvrou heelwat verander, wat haar in staat stel om haar roeping te vervul op ’n manier wat nie net in die huis nie, maar ook in die samelewing plaasvind. So doen elke dinamiese Christenvrou dit op haar eie manier, die manier wat vir haar en haar gesin werk.
In ’n omgewing wat toenemend gedigitiseer word, het die moderne vrou toegang tot inligting en platforms wat haar in staat stel om haar geloof en waardes met die wêreld te deel, en om idees en wenke met ander vroue en mammas uit te ruil.
Hulle kan mekaar raad gee en bemoedig. Ja, selfs op die internet is daar plek vir ons dinamiese Christenvroue. Die digitale era het nuwe maniere van bediening en gemeenskapsbou vir ons geskep.
Sy gebruik haar stem en invloed om ander te inspireer, terwyl sy steeds haar Christelike waardes van liefde, deernis en vergifnis uitleef. Sy vergewe meer as wat nodig is, meer as wat sy moet.
Die moderne Christenvrou in 2025 is nie ’n eensydige figuur nie, maar ’n afgeronde en invloedryke persoon wat haar geloof met trots uitleef en probeer oorleef in ’n veranderende wêreld.
Moet haar liefs nie in ’n boksie probeer druk nie, en erken haar unieke persoonlikheid. Gee haar komplimente oor dit wat sy regkry, en moedig haar aan om ’n verskil in mense se lewens te maak.
’n Dinamiese Christenvrou in 2025 lyk soos sy lyk: Dalk dra sy bloedrooi lipstiffie of dalk dra sy geen grimering nie. Miskien dra sy hakskoene, miskien loop sy kaalvoet. Wie sal weet?
Elke vrou se roeping lyk anders. Elke vrou se idee van sukses lyk anders. Daarom moet ons eerder bewus raak van die dinamiese Christenvroue om ons, hul suksesse vier en hulle aanmoedig, in plaas van om mekaar te kritiseer.
Sommige mense sien jou vlammetjie brand en kom nader om dit te blus – dit spreek boekdele oor hulle karakter – nie oor joune nie. Ander kom nader om hul kerse by jou aan te steek – ons is dinamiese Christenvroue saam op pad om mekaar se pad te verlig!
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
