Met die verloop van jare word gewigtige werksaamhede aan die Kuratorium gekoppel en ná afloop van die 74ste Algemene Kerkvergadering (AKV) is dit weer die geval. Daar wag nou ’n koersaanduidende projek op die terrein van teologiese opleiding.
Die nuutverkose lede van die Kuratorium word in hul komende termyn getaak om ’n beroepsgerigte lisensiaat te ontwikkel wat deel van die teologiese opleiding van predikante van die NHKA sal vorm. Die begrip lisensiaat het ’n lang kerklike geskiedenis as ’n vorm van bevoegdheidsverklaring in verskeie ander kerklike tradisies. Tydens die lisensiaat werk studente in gemeentes onder toesig van ’n mentorpredikant. Dit is juis dié projek rondom die lisensiaat wat as vertrekpunt gedien het by die eerste vergadering van die nuwe Kuratoriumlede wat op 28 Oktober 2025 by Gemeente Philadelphia plaasgevind het.
Tydens die openingsrede stel dr Thinus van Staden belangrike vrae aan die lede. Hoe verstaan ons ons taak? Wat is die groot droom wat die lisensiaat aan moet voldoen? Watter pedagogiese modelle is daar wat ons behoort te oorweeg? Hoe lyk teologiese opleiding wat predikante toerus en vorm om:
- die visie van ons Kerk te help verwesenlik;
- opgewonde te wees oor wat God deur sy Kerk kan doen;
- Coram Deo te leef, geroep en geïnspireer deur die Heilige Gees;
- hermeneuties met hul konteks hier aan die suidpunt van Afrika te kan omgaan;
- hoop te gee in ’n wêreld wat sonder hoop en liefdeloos blyk te wees; en
- teologies goed opgelei te wees en genoegsame praktykvaardighede te ontwikkel om na twee jaar selfstandig in gemeentes te kan dien.
Dit is belangrike vrae wat die raamwerk en uiteindelike riglyne vir die ontwikkeling van die lisensiaat gaan bepaal.
Die vergadering het dit duidelik gestel dat die lisensiaat nie ’n poging is om die opleiding vanaf die Universiteit van Pretoria (UP) te korrigeer nie, maar eerder te dien as opleiding wat uniek en kontekstueel is om die Hervormde Kerk uit te bou. Die Kuratorium is dankbaar vir die goeie verhouding wat tussen die NHKA en die Teologiese Fakulteit by UP bestaan. Dit is vir alle lede van die Kuratorium as vertrekpunt belangrik dat die opleiding wat deur die Kerk gebied word, sal dien as opleiding wat hoop vir die toekoms van die Kerk sal gee.
Die fondament waarop die Kuratorium die lisensiaat ontwikkel, is: Ons beplan vir ’n kerk wat kan groei!
Die nuutverkose lede van die Kuratorium. Agter is dr MJ (Martin) Slabbert, dr DJC (Daan) van Wyk (jr), ds WJJ (Willem) Kok en ds WA (Willem) Dreyer. Voor is ds JT (Jimmy) Manders, ds R (Rue) Hopley en dr JM (Thinus) van Staden.