Wanneer laas het jy ’n brief of ’n poskaart gestuur? In ’n wêreld waar alles deesdae vinnig en elektronies gebeur, is dit maklik om te vergeet hoe besonders dit was om iets uit die pos te ontvang –’n verjaarsdagkaartjie, ’n handgeskrewe brief van ’n vriend oorsee of ’n tjek in die pos. Ons praat liewers nie van die vensterkoevertjies met rekeninge nie! Daardie opwinding (of benoude oomblik) wanneer jy die koevert oopmaak en die woorde begin lewe kry. Pure nostalgie! Alle kerkkorrespondensie, briewe en pakkies was natuurlik ook via die posdiens en dus posbusse.
Die Museum was in die bevoorregte posisie om die ou Wonderboom-Suid Poskantoor op die hoek van Naudestraat en Voortrekker-/Steve Bikoweg se ou posbus vir die museumterein te bekom. Alles het natuurlik met die toestemming van die Suid-Afrikaanse Poskantoor geskied. Ons het vir ’n paar weke in Blitspos gevra vir hulp met die verskuiwingsproses. Nou wil ons graag ons borge en helpers bedank wat dit moontlik gemaak het om hierdie posbus te kon verskuif en te verf. Dank word vervolgens ook betuig aan Gemeente Wonderboompoort vir toestemming dat die posbus ’n veilige staanplek op die terrein kon vind.
Dit is vir ons as Museum ’n groot eer om die roete van inkpot, geskrewe brief, of tikmasjien, koevert, seël en groot gebosseleerde stempel te wys en om vir besoekers die geleentheid te gee om self die brief te pos. Kom besoek gerus die SP Engelbrecht-museum en gryp die geleentheid aan om ’n brief of kaartjie te stuur. Jy stuur dit nie sommer van enige posbus af nie, maar van die ROOI museumposbus! Word deel van ’n lewendige stukkie geskiedenis.
Ons nooi jou vriendelik uit vir ’n nostalgiese reis by die Museum. Besoeke is slegs per afspraak en Johann de Bruin kan by 082 733 3951 gekontak word om jou besoek te reël.

