My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry. (Galasiërs 4: 19, AFR1983)

Lees Galasiërs 4: 17-20

Dit is ’n risiko om by ander se lewens betrokke te raak, want soms spoel die pyn en hartseer in hul lewe oor na jou toe. Dan is jy betrokke, of jy dit wil weet of nie. Wel, as jy ’n gelowige is, gaan jy graag sulke risiko’s aan. Jy kan immers nie op die kantlyn staan as ander seer het nie. Jy kan nie met gevoude armpies staan en toekyk terwyl mense rondom jou bloei en pyn het nie. Jesus se liefde dwing jou om betrokke te maak. Dit dwing jou om uit te reik, te gee!

Paulus het intens meegeleef met die gelowiges se probleme in die kerke wat hy gestig het. Hul vreugde was sy vreugde, en hul hartseer ook. Daarom dat hy so ontsteld was toe hy agterkom dat die Galasiërs terugval in ’n wettiese godsdiens waar hulle van voor af probeer om al God se wette te hou om gered te word. Hulle het selfs oorweeg om hulle te laat besny om God se guns te probeer wen. Paulus was so omgekrap dat hy maar weer betrokke geraak het, weer begin skryf het.

Hy skryf dat hy tans in geboortepyne oor hulle is. Hy kon dit nie hanteer dat hulle die pad byster is nie. Dit het sy hart gebreek. Daarom sy intense worsteling met hulle om hulle weer op koers te kry.

Leer by hom om ’n warm hart vir ander te hê. Laat ander se nood vandag swaar op jou hart lê. Doen iets vir hulle. En as jy die pen optel, doen dit met liefde en deernis.

Die kerk is ’n hospitaal, nie ’n leeukuil nie. Mense word nooit in die kerk vir die leeus gegooi nie. In die kerk is daar altyd verbande en medisyne vir die lewe se groot seer. Daar is vergifnis wanneer ons mekaar te na kom en seer maak. Want in die kerk gee mense vir mekaar om. Hier is ons goed vir mekaar. Hier vloei altyd strome van deernis en liefde. Hier is altyd warmte te vind. Warmte en liefde wat uitkring na elke mens wat ons pad kruis.

Ons het mekaar nodig, meer as wat ons ooit sal besef. Die Here het elkeen van ons met ’n doel in ’n bepaalde geloofsgemeenskap geplaas. Kom ons sorg dat ons elke Sondag nie maar net die meelewing sal hoor nie, maar regtig sal luister, sal gaan bid en ook vir mekaar iets gaan doen. Dit is presies wat die Here van ons verwag. Hy wil hê dat ons warm harte moet hê en oop hande vir al sy kinders. Hy wil hê dat ons vir al sy kinders net so goed moet wees as wat Hy vir ons is. Kom ons dra mekaar en alle mense wat ons pad kruis op die hande sodat Christus se onvoorwaardelike liefde en genade in ons gestalte kry.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap