Dr André Ungerer het namens Die Hervormer ’n paar vrae aan prof Johan Buitendag oor sy nuutste boek, Van heerskap na gemeenskap, gestel.
Dr André Ungerer (AU): Jy was predikant, professor, dekaan en moderator. Waarom het jy besluit om hierdie boek juis nou te skryf?
Prof Johan Buitendag (JB): Ek beskou hierdie boek as die samevatting van ’n lewenslange gesprek. Vir meer as vier dekades het ek nagedink oor die verhouding tussen God, mens en aarde. Gedurende daardie tyd het die wêreld ingrypend verander. Ons leef vandag met klimaatsverandering, verlies aan biodiversiteit, toenemende sosiale ongelykheid en ’n groeiende gevoel van onsekerheid oor die toekoms. Die vraag wat my al hoe meer besig gehou het, is nie óf geloof nog relevant is nie, maar watter soort geloof vandag geloofwaardig is.
Ek wou egter nie nog ’n akademiese boek skryf nie. Hierdie boek is bedoel vir gewone lesers. Dit is geskryf vir mense wat bekommerd is oor hul kinders en kleinkinders se toekoms; vir mense wat wonder hoe geloof hulle kan help om sin te vind in die uitdagings van ons tyd; en vir mense wat vermoed dat die Christelike geloof meer te sê het oor die wêreld as net wat op Sondae in die kerk gebeur.
Die boek is daarom nie bloot ’n teologiese argument nie. Dit is ’n persoonlike rekenskap van hoe my eie verstaan van God, mens en skepping oor die jare gegroei het. Indien die boek iets regkry, hoop ek dat dit lesers help om met nuwe oë na hul plek in God se skepping te kyk.
AU: Die titel, Van heerskap na gemeenskap, is opvallend. Wat bedoel jy daarmee?
JB: Die titel verwoord die hart van die boek. Eeue lank het Christene dikwels die skeppingsopdrag verstaan asof die mens bo die res van die skepping staan. Vorige vertalings van Genesis 1: 28 het dit uitgelê asof die mens die aarde moet onderwerp en daaroor moet heers. Soms het dit die indruk geskep dat die aarde slegs daar is om tot voordeel van die mens gebruik en selfs uitgeput te word.
Ek meen ons moet die Bybelse boodskap anders lees. Die mens is uniek, maar nie alleen nie. Ons bestaan binne ’n netwerk van verhoudings. Ons leef van die aarde se vrugbaarheid, water, lug en energie. Ons bestaan saam met ander mense en ander lewende wesens. Ons is nie die eienaars van die skepping nie; ons is deelnemers daarin.
Wanneer ek van gemeenskap praat, bedoel ek nie bloot ’n vriendeliker manier van saamleef nie. Ek bedoel ’n fundamenteel ander verstaan van die werklikheid. Ons identiteit word nie gevorm deur wat ons beheer nie, maar deur die verhoudings waarbinne ons leef. Dit geld vir ons verhouding met God, met ander mense en, natuurlik, met die aarde self.
Vir my is dit die groot uitdaging van ons tyd: om weg te beweeg van ’n kultuur van oorheersing na ’n kultuur van verbondenheid.
AU: Sommige mense meen die kerk behoort oor geloof te praat en nie oor die omgewing nie. Waarom sien jy die ekologiese krisis as ’n geloofsaak?
JB: Omdat die Bybel die skepping nooit as iets los van God verstaan nie. Die natuur is nie bloot die dekor waarteen die menslike drama afspeel nie. Dit is die ruimte waarin God se teenwoordigheid en sorg sigbaar word.
Wanneer riviere besoedel word, woude verdwyn of gemeenskappe deur droogtes en oorstromings geteister word, kyk ons nie bloot na omgewingsprobleme nie. Ons kyk na gebroke verhoudings. Die lyding van die aarde en die lyding van mense hang dikwels nou saam.
Dit is waarom ek in die boek verwys na die noue verband tussen wat soms groen ekologie en bruin ekologie genoem word. Groen ekologie fokus op die natuurlike omgewing; bruin ekologie op menslike nood en ongeregtigheid. Die twee kan nie van mekaar geskei word nie. Die kreet van die aarde en die kreet van die armes is dikwels dieselfde kreet.
Daarom behoort die kerk nie stil te bly nie. Nie omdat die kerk politieke oplossings moet voorskryf nie, maar omdat die evangelie ons oproep tot verantwoordelikheid, geregtigheid en hoop. Om ons naaste lief te hê, is uiteindelik ook om die natuur lief te hê.
AU: Dit is moeilik om die boek in ’n spesifieke genre te plaas. Hoe sou jy dit self beskryf?
JB: Die lewe self bestaan nie uit een register nie. Ons leef terselfdertyd as gelowiges, landsburgers, ouers, grootouers, kinders en bewoners van ’n brose planeet. Daarom wou ek nie ’n boek skryf wat in slegs een toonsoort gehou is nie.
Ek sou die boek beskryf as die verhaal van ’n lewenslange nadenke oor geloof, wetenskap en die aarde. Dit is outo-etnografies – ’n vermenging van teologie, spiritualiteit en kultuurkritiek. Dit bevat persoonlike herinneringe, gesprekke met groot denkers, teologiese argumente en ervarings in die kerk, maar bowenal verwondering oor die misterie van die lewe self.
Vir my is dit nie verskillende temas nie, maar verskillende vensters op dieselfde werklikheid. Die wêreld laat hom nie in waterdigte kompartemente verdeel nie. Daarom hoef ons ook nie geloof, wetenskap en ekologie van mekaar te skei nie. Die uitdaging is juis om die onderlinge samehang raak te sien en met mekaar in gesprek te tree.
AU: In die outeursnota word dit duidelik dat hierdie boek vir jou meer as ’n akademiese projek was. Hoe persoonlik is hierdie boek vir jou?
JB: Baie persoonlik.
Ná ’n leeftyd in die akademie het ek geleer dat die belangrikste insigte selde net uit boeke kom. Hulle ontstaan uit ontmoetings, uit vreugde en teleurstelling, uit verlies en dankbaarheid. Teologie word nie in ’n vakuum beoefen nie; dit groei binne die werklikheid van ’n mens se lewe.
Die boek dra spore van my eie reis. Daar is die invloed van my ouers, kollegas, studente en vriende. Daar is herinneringe aan plekke wat my gevorm het en mense wat my anders laat dink het. Daar is ook die ervaring van verlies, eindigheid en die groeiende besef dat die lewe ’n gawe is wat aan ons geleen word.
In die outeursnota probeer ek erkenning gee aan hierdie mense en ervarings. Ek wou eerlik wees daaroor dat die idees in die boek nie uit die lug geval het nie. Hulle het oor dekades heen gegroei. Daarom is die boek in ’n sekere sin nie ’n suiwer teologiese werk nie, maar ook ’n deurleefde memoir.
Ek hoop lesers sal iets van hul eie lewensreis daarin herken. Die doel is nie om finale antwoorde te gee nie, maar om mense uit te nooi om saam oor die betekenis van geloof in ons tyd te dink en te besin.
AU: Die omslag van die boek trek onmiddellik die aandag. Vertel ons iets daarvan.
JB: Die foto op die omslag het ek self in Junie 2026 by San Damiano, naby Assisi, geneem tydens ’n week van afsondering waarin die manuskrip sy finale beslag gekry het. Hierdie plek het ’n besondere rol in die lewe van Franciskus van Assisi gespeel. Dit was hier waar hy omstreeks 1205 voor die kruisbeeld gebid het en die roeping ontvang het om God se huis te herbou. Aanvanklik het hy dit letterlik verstaan en die vervalle kerkie begin herstel. Eers later het hy besef dat die opdrag veel dieper strek: dit gaan oor die vernuwing van die kerk en haar getuienis in die wêreld.
San Damiano was ook die plek waar Klara en haar susters hulle gevestig het. Aan die einde van sy lewe is Franciskus, siek en byna blind, daar deur hulle versorg. Dit was juis in hierdie tyd van fisieke broosheid dat hy die grootste deel van sy beroemde Loflied van die Skepping geskryf het. Daarin spreek hy die hele skepping as familie aan: Broeder Son, Suster Maan, Broeder Vuur en Suster Moeder Aarde. Sommige van die laaste verse is kort voor sy dood by die Porziuncola, die plek waar hy in Oktober 1226 gesterf het, bygevoeg – presies 800 jaar gelede.
Die simboliek van die omslag is vir my belangrik. Die olyfbome herinner aan die aarde en die skepping. Die rooi rose verwys na die tradisie van Franciskus se geestelike worstelinge en die bloed van sy wonde. Die kleur van die omslag is doelbewus olyfkleur. Ons praat dikwels van groen ekologie, wat oor die natuur handel, en bruin ekologie, wat oor sosiale geregtigheid en menslike nood handel. Wanneer groen en bruin vermeng word, ontstaan olyfkleur. Vir my simboliseer dit die oortuiging dat die kreet van die aarde en die kreet van die mens uiteindelik dieselfde kreet is.
Die standbeeld op die omslag staan met oop hande asof dit die rose aanbied. Daarom is dit vir my meer as net ’n illustrasie. Dit is reeds die uitnodiging van die boek: om weg te beweeg van heerskap wat so maklik in baasskap kan ontaard en eerder te ontdek wat dit beteken om deel te wees van ’n gemeenskap van lewe voor God. Heerskap verdeel; gemeenskap verbind. En dit is die kernboodskap van die boek.
AU: Wat hoop jy sal jou lesers uit die boek neem?
JB: Ek hoop hulle sal anders leer kyk.
Anders na God, anders na hulself en anders na die aarde. Ek hoop hulle sal ontdek dat geloof nie kleiner word wanneer ons die uitdagings van ons tyd ernstig opneem nie. Inteendeel, geloof word dikwels ryker wanneer dit ons help om die diepte van ons verbondenheid met die wêreld raak te sien.
As lesers ná die lees van die boek die skepping minder as besitting en meer as gawe kan sien, sal ek dankbaar wees. Indien hulle die mens minder as heerser en meer as deelnemer kan verstaan, sal ek voel die boek het sy doel bereik.
Uiteindelik gaan die boek oor hoop. Nie ’n oppervlakkige optimisme nie, maar die diep vertroue dat ons bestaan ingebed is in God se groter werklikheid. Daaruit kan ’n nuwe manier van leef ontstaan: met nederigheid, verantwoordelikheid en bowenal met verwondering.
Anders dink lei tot anders doen.
Dit is gemeenskap. En ek vermoed dit is nie net wat ons planeet vandag nodig het nie, maar ook wat ons as kerk opnuut moet ontdek.
AU: Waar kan ons die boek in die hande kry?
JB: Die boek is by Naledi beskikbaar: https://naledi.co.za/product/van-heerskap-na-gemeenskap/
(Dr André Ungerer is emerituspredikant en leraar van Gemeente Pretoria-Oos)