’n Bekende kosmetiese maatskappy het ’n promosie geborg waarin mense gevra is om foto’s en briewe te stuur van die mooiste vroue wat hulle ken. ’n Brief wat ingestuur is deur ’n jong seun het veral aandag getrek. Uit die brief was dit duidelik dat hy uit ’n gebroke huis kom en dat die buurt waarin hulle bly, maar arm was.

Hy het die volgende geskryf: ’n Pragtige vrou bly in dieselfde straat as ek. Ek gaan kuier elke dag vir haar. Sy laat my voel soos die belangrikste kind in die wêreld. Ons speel Scrabble en sy luister na my probleme. Sy verstaan my en as ek huis toe gaan, skree sy agter my aan dat sy trots is op my.

Hy het ’n foto ingesluit en geskryf: Hierdie foto wys dat sy die mooiste vrou in die wêreld is. Dit was die foto van ’n glimlaggende, tandlose vrou wat in ’n rolstoel sit. Haar grys haartjies was teruggetrek in ’n bolla en die plooitjies om haar oë het verdof onder die sprankel in haar oë.

Glimlaggend het die president gesê: Ons kan nie die inskrywing gebruik nie. Dit sal aan die wêreld wys dat hulle nie ons produk nodig het om pragtig te wees nie.

Ek dink hy is reg. Daar is ’n tipe skoonheid wat absoluut niks met ’n mens se fisiese voorkoms te make het nie. Dis “iets” moois wat van binne ’n mens uitstraal omdat Jesus deel is van ons lewe. Hy verander ons van die binnekant af buitentoe. Hy maak ons nuut.

Net soos wat ons ’n daaglikse skoonheidsroetine het wat ons volg om ons uiterlike skoonheid in stand te hou, het ons ook ’n daaglikse geestelike roetine nodig, sodat Christus in ons daagliks meer en meer te voorskyn kan kom.

Reiniger

Sonde en ongehoorsaamheid het maar die geneigdheid om in ons lewens saam te pak. Ons “reinigingsagent”, die Heilige Gees, werk elke dag in ons lewens wanneer ons ons sonde bely, berou toon en ons toewy om môre weer te probeer en beter te lewe. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Joh 1: 9).

Bevogtiger

’n Goeie bevogtiger is om vir mekaar om te gee. Wanneer ons ’n hart ontwikkel vir mekaar, en ander se behoeftes bo ons eie stel, maak dit ons sag en aantreklik. Die Bybel herinner ons gedurig dat ons mekaar moet liefhê, mekaar moet hoog ag, mekaar moet respekteer en onder mekaar eensgesind moet wees. Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit (Rom 13: 8).

Ontrimpelingsroom

Swaarmoedigheid, negatiwiteit en ’n kritiese gees laat ons hele gesig sommer op een groot plooi trek. Om hierdie plooi uit te stryk, is beskeidenheid en kalmte van gees die beste “ontrimpelingsroom” wat ons kan aanwend. Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde (1 Pet 3: 4).

Onderlaag

Ons het ’n goeie onderlaag nodig, en wat is beter as die Woord van die Here as ons fondasie? As ons die Woord van die Here in ons harte het, kan die res van ons geestelike “grimering” makliker aangewend word. Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie (Ps 119: 11, OAV).

Ooggrimering

Om te verseker dat ons oë bly blink, moet ons onsself daarvan weerhou om na dinge te kyk wat onvanpas is vir ’n pragtige vrou wat aan die Here behoort. Die oog is tog die venster van ons siel. Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê (Matt 6: 22).

Hou jou oë gevestig op Jesus, sodat jy – ongeag watter draaiballe die lewe jou kant toe gooi – gefokus sal bly op die Here wat jou die krag gee en jou daardeur sal dra. …laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus… (Heb 12: 2). Vra die Here om jou te help om ander ook te sien soos Hy hulle sien, veral dié wat jou irriteer. Sien raak dat hulle ook geskep is na die beeld van die Here en dat hulle kosbaar is in sy oë.

Lipstiffie

Om jou gesig af te rond, moenie jou lippe vergeet nie. Wend lipstiffie aan in die vorm van vriendelikheid, ten einde die beste resultate te verseker. ’n Vriendelike woord op ons lippe verander sommer die aanhoorder van ons woorde se hele gelaat. En ’n vriendelike trek om ons mond maak ons onweerstaanbaar. Vriendelike woorde is soos ’n heuningkoek: soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente (Spr 16: 24, OAV). Plaas ’n wag voor jou mond (Ps 141: 3) en wy jouself daaraan toe om net te praat wat mooi en goed en opbouend is (Fil 4: 8).

Blosser

Die blosser wat ons aanwend, behoort God se liefde te wees wat deur ons skyn. …en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Rom 5: 5).

Handeroom

Ons wil nie hê ons hande moet droog en verrimpeld word nie, so ons het nodig om vrygewigheid en goeie dade mildelik aan te wend. Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word… (2 Kor 9: 11).

Voetterapie

Wanneer ons ons voete afskeep, word hulle hard en skurf. Ons eie geestelike groei is iets wat ons nie kan bekostig om af te skeep nie. Ons moet dit vertroetel en in stand hou, sodat ons daar waar ons voete ons deur ’n dag ook al heen vat, ’n draer na ander kan wees van God se liefde en genade. …en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede (Ef 6: 15, OAV).

Versorg jouself fisies en geestelik van kop tot tone. Die gevolg is dat jy nie anders sal kan nie as om mooi te wees van binne en van buite.

af
af
Deel met behulp van
Copy link