As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld julle as sy eie liefhê. Omdat julle egter nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, juis daarom haat die wêreld julle. Onthou die woorde wat Ek vir julle gesê het: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. (Johannes 15: 18-20, AFR2020)

As ons na hierdie woorde in Johannes luister, klink dit of Christene moet verwag dat die wêreld hulle kan haat en selfs vervolg. Dit beteken ons moet baie dankbaar wees as ons nie vir ons geloof vervolg word nie. Ons moet besef dit is net genade.

Die vraag is, is daar Christene wat vandag nog vir hul geloof vervolg word? Of is alle Christene vry om hul geloof te beoefen soos dit hulle pas?

Definisie van vervolging

Die organisasie Geopende Deure Internasionaal het 30 jaar gelede begin met ’n jaarlikse Wêreldwaarnemingslys (WWL). Hulle werk met ’n teologiese definisie eerder as ’n sosiologiese definisie en definieer vervolging as enige vyandigheid wat as gevolg van iemand se identifikasie met Christus ervaar word.

Die WWL-metodologie onderskei tussen die twee vernaamste maniere van vervolging: die druk (bekend as squeeze) wat Christene op alle gebiede van die lewe ervaar, en geweld (bekend as smash) teen Christene. Met druk word bedoel hoe Christene se lewens en getuienis onder druk geplaas word op vyf spesifieke gebiede van hul lewens: hul privaat-, familie-, gemeenskaps-, nasionale en kerklewe. Geweld teen Christene word gemeet en nagespoor deur die rapportering van konkrete voorvalle.

Die vervolging van Christene vandag

Indien ons onseker is oor die vraag of Christene vandag enigsins vervolg word, kan ons net gaan kyk na hierdie WWL van Geopende Deure. Hulle lys die 50 toplande in die wêreld waar daar vervolging van Christene plaasvind. Die 2023-lys van die 50 lande, met erkenning aan Geopende Deure, is soos volg:

  1. Noord-Korea
  2. Somalië
  3. Jemen
  4. Eritrea
  5. Libië
  6. Nigerië
  7. Pakistan
  8. Iran
  9. Afganistan
  10. Soedan
  11. Indië
  12. Sirië
  13. Saoedi-Arabië
  14. Mianmar
  15. Maledive
  16. China
  17. Mali
  18. Irak
  19. Algerië
  20. Mauritanië
  21. Oesbekistan
  22. Colombië
  23. Burkina Faso
  24. Sentraal-Afrikaanse Republiek
  25. Viëtnam
  26. Toerkmenistan
  27. Kuba
  28. Niger
  29. Marokko
  30. Bangladesj
  31. Laos
  32. Mosambiek
  33. Indonesië
  34. Katar
  35. Egipte
  36. Turkye
  37. Demokratiese Republiek van die Kongo
  38. Mexiko
  39. Etiopië
  40. Bhoetan
  41. Turkye
  42. Comore
  43. Maleisië
  44. Tadjikistan
  45. Kameroen
  46. Broenei
  47. Oman
  48. Kazachstan
  49. Jordanië
  50. Nicaragua

Noord-Korea is dus eerste op die lys, dit wil sê die land waar die ergste vervolging plaasvind, en hulle word gevolg deur Somalië, Jemen, Eritrea, Libië, Nigerië, Pakistan, Iran, Afganistan, Soedan en Indië. Hierdie 11 lande is die lande waar die vervolging beskryf word as “uitermatig”. Die ander 39 lande is lande waar die vervolging as “baie hoog” beskryf word. Die nuutste data wys dat een uit elke sewe Christene wêreldwyd (een uit vyf in Afrika, twee uit vyf in Asië) met baie hoë of uiterste vlakke van vervolging leef. Dit wat die Christene daar ervaar, word gelys as fisiese en verbale mishandeling; gevangenskap (tronkstraf); ontvoering; omkopery; deportasie; verwoesting van eiendom; boetes; foltering; en moord.

Geopende Deure het onlangs die volgende skrywe aan ons Kerk gerig met die versoek dat ons saam met hulle bid vir die Christene in daardie lande. Dit gee ons ’n idee hoe erg baie van ons broers en susters in Christus ly:

Ons familie in Pakistan is in pyn gedompel na die geweld van bende-aanvalle op minstens 20 kerke en 93 huise wat aan Christene behoort. Sondag, 20 Augustus, het groepe Christene in Jaranwala, Pakistan, buite bymekaargekom vir hul kerkdiens. In plaas daarvan om in banke of op stoele te sit, het hulle langs gebrande mure gesit. In stede van aanbidding in ’n kerk met sierglasvensters en pragtige argitektuur, het hulle bymekaar gekom tussen gebreekte glas en hope rommel. En in stede daarvan om terug te keer huis toe vir ’n familie-ete, kon talle gelowiges nie huis toe gaan nie – hulle huise lê in puin. Hulle almal is nog in skok na die aanvalle. Vra asseblief vir jul ondersteuners en gemeentelede om saam te bid.

Hier is nog ’n paar voorbeelde van wat Christene in sulke lande beleef:

Noord-Korea

Noord-Korea bly ’n brutaal vyandige plek vir Christene om in te leef. Gelowiges wat deur die owerhede uitgevang word, word na arbeidskampe, waar die toestande afgryslik is, gestuur as politieke gevangenes. Andersins word hulle en hul families summier doodgemaak. Gelowiges kan dit slegs waag om byeen te kom indien hulle dit in uiterste geheimhouding doen. Daar is ’n nuwe “teenreaksionêre denkwet” wat dit baie duidelik maak dat dit ’n ernstige misdaad is om ’n Christen te wees of om ’n Bybel te besit. Oortreders sal swaar gestraf word.

Dit blyk dat talle Christene in Noord-Korea die afgelope jaar gevang en tereggestel is. Meer as 100 van hul familielede is ook aangekeer en na arbeidskampe gestuur.

Nigerië

’n Predikant in ’n gemeente in Nigerië skryf: Whenever the militants visit a village, they will ask the chief to call all the people to listen to their message. The militants will say to people that they are against the government, that they want everybody to become Muslim and that those who refuse to obey will be slaughtered. Hierdie dorpie, waarvan 40% van die inwoners Christene is, is op 10 Junie 2023 deur die militantes besoek. Hulle het ’n ultimatum aan die Christene gestel: Verlaat die dorpie binne 72 uur, of bekeer julle tot die Islam as julle nog wil lewe.

Somalië en Jemen

In hierdie Moslemlande is dit veral die Christene wat uit die Islam bekeer is wie se lewens niks werd is nie. Omdat dit as verraad teen die Islam gesien word, is dit dikwels daardie Christene se eie familie of stamleiers wat hulle teister, intimideer en vermoor. Somalië verwag dat alle Somali’s Moslems moet wees en verklaar daarom openlik dat daar geen plek vir Christenskap is nie. In Jemen het die gewelddadige rebellegroep al-Shabaab al herhaaldelik verklaar dat alle Christene in die land uitgeroei moet word. Geen “kerklewe” is moontlik vir die Christene in daardie twee lande nie en gelowiges wat dit waag om byeen te kom, moet dit in die uiterste geheimhouding doen.

Ten slotte

Dit is enkele voorbeelde van die vervolging wat Christene in die wêreld ervaar. Ons wat vry is om ons geloof te beoefen, besef nie altyd hoe bevoorreg ons is nie. Tog het ’n Christen wat al ernstig vir sy geloof gely het, eendag gesê: Ons bid ook vir julle wat so vry en voorspoedig is en geen vervolging ervaar nie, want dit hou ’n groot versoeking in om nie ernstig te wees oor jou geloofslewe nie. Mag ons nooit verslap in ons geloof nie en altyd dankbaar wees vir die genade om nie vervolg te word nie. En mag ons altyd aan die Christene dink wat wêreldwyd so erg ly vir hul geloof.

[Foto: Christene in Pakistan betoog teen godsdiensvervolging]

(Dr Chris le Roux is emerituspredikant en leraar in Stellenbosch)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap