Herdenk, hervorm, hoop

Ons het reeds in ’n vorige skrywe daarop gewys dat 2024 ’n besondere mylpaal in ons kerklike geskiedenis merk: Twee eeue van selfstandige kerkwees in Suider-Afrika sedert die eerste Algemene Kerkvergadering (AKV) in 1824 in Kaapstad plaasgevind het.

Terselfdertyd is dit nou reeds 90 jaar sedert die eerste Psalm- en Gesangeboek in Afrikaans op  Hervormingsondag 1934 in gebruik geneem is. Ons vier dus die Kerk se reformatoriese erfenis, die Kerk se wortels in Afrika en die Kerk se lied in Afrikaans.

’n Gesamentlike herdenking op Hervormingsondag, 27 Oktober 2024, bied aan ons ’n unieke geleentheid om ons gedeelde geskiedenis en onderlinge  geloofsverbondenheid te bevestig.

Ons kan ons geloofsgemeenskap hier in Suid-Afrika vier en die eenheid wat ons bely, sigbaar maak deur saam te aanbid.

Ons herinner u graag ook aan die twee spesiale gedenkdienste vir die AKV200 wat op 3 November 2024 plaasvind – die tyd van die erediens in die Groote Kerk in Kaapstad is 15:00, en die erediens in die Hervormde Kerk Pretoria-Oos vind om 16:00 plaas. Die twee eredienste word onderskeidelik gelei deur die voorsitters van die Algemene Sinode Moderamen (NGK) en Algemene Kerkvergadering (NHKA). Beide eredienste sal ook direk gestroom word sodat lidmate regoor die land daarin kan deel. Die erediens gelei deur prof Wim Dreyer kan gestroom word by die volgende skakel:  https://youtube.com/live/Sx9-9o62dqs?feature=share

Dit is ons wens dat hierdie geleenthede ook benut sal word om plaaslik die gemeentes van ander kerke van Gereformeerde inslag by die gesamentlike eredienste te betrek. Ons is immers daarvan oortuig dat ons in geloofsoortuiging nou aan mekaar verbonde is en dat die kerke van die Gereformeerde tradisie ’n kosbare bydrae tot die lewe van die kerklike lewe en breër gemeenskap in Suid-Afrika gemaak het.

 

Konferensie

Kerkwees 200: Verlede, hede en toekoms

Die Departement Sistematiese en Historiese Teologie van die Universiteit van Pretoria nooi u uit om die konferensie by te woon op 5 & 6 November 2024. Die konferensie vir Kerkwees 200 met die tema Verlede, hede en toekoms vind op 5 en 6 November 2024 by Gemeente Pretoria-Oos plaas. Die konferensie is deel van die landwye en ekumeniese herdenking van die eerste Algemene Kerkvergadering wat 200 jaar gelede, vanaf 2 November 1824, in Kaapstad sitting geneem het.

Program voorblad

Dinsdag 5 November 2024

Woensdag 6 November 2014

Klik vir die volledige uitnodiging

Boekbekendstelling

Geskiedenis van die Hervormde Kerk 1824-2024

’n Boek met die titel Geskiedenis van die Hervormde Kerk 1824 tot 2024 sal teen einde Oktober 2024 beskikbaar wees teen R250. Die boek beslaan 448 bladsye en vertel die verhaal van die Hervormde Kerk aan die hand van belangrike besluite van die AKV.

Hierdie boek kan bestel word by mev Sarie Roux by boekwinkel@nhk.co.za.

 

Onderhoud met Prof Wim Dreyer

deur Dr Christo Pretorius

Sluit by ons aan vir ‘n boeiende onderhoud met Prof Wim Dreyer, die skrywer van die nuutbekendgestelde ‘Geskiedenis van die Hervormde Kerk 1824-2024’.

Dr Christo Pretorius lei die gesprek met met die volgende fokusvrae:

1. Waarom ‘n beskrywing van die Hervormde Kerk se geskiedenis van 1824-2024?

2. Hierdie publikasie word ondermeer ingerig aan die hand van besluite deur die Algemene Kerkvergadering en die ontwikkeling daarvan binne die kontekste waarin die Kerk kerk van Christus moet wees. Hiervoor gebruik jy verskillende perspektiewe. Watter perspektiewe gebruik jy? 
 

3. ‘Kerkbegrip is krities belangrik vir die interpretasie van kerkgeskiedenis’. Aan die hand hiervan onderskei jy tussen ‘n juridies-institusionele benadering tot die kerk se selfverstaan en ‘n organiese benadering. Wat beteken dit en wat is die implikasies hiervan?

  

4. Jy stel verskeie diensterreine en gesprekstemas aan die orde. Hiervan is onder andere die Diens van Barmhartigheid, die Teologiese opleiding, Kerk en volk, die rol van die Vrou, Sending, Apartheid en Ekumeniese skakeling. Jy voer ook aan dat die kerk daarna moet streef om met integriteit kerk te wees. Hoe voldoen die kerk aan die oproep en kan jy dit toelig aan die hand van ‘n tema?

 

 5. Die laaste bladsy van hierdie werk bevat ‘n gebed vir Suid-Afrika. Die Afrikaanse kerkvader Augustinus het per geleentheid opgemerk – ons bid wat ons glo. Die kerkgeskiedenis bied ‘n beeld van hoe ons soos en saam met die kerk van alle eeue glo en bely. Maar ons is die kerk op weg en aan die hand hiervan: ‘Wat beteken dit om kerk te wees in die 21 ste eeu?’

 
 Moenie hierdie onderhoud misloop nie!

Konferensie van die NG Kerk

Herdenk – hervorm – hoop

Die NG Kerk hou ook ‘n konferensie vir Kerkwees 200 met die tema Herdenk – hervorm – hoop vind op 2 November 2024 by die NG Kerkargief in Stellenbosch plaas. U word genooi om saam te reflekteer oor die werksaamhede van die NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode van Wes-Kaapland) oor die afgelope 200 jaar. Die konferensiefooi beloop R300 en sluit tee/koffie en verversings asook ’n ligte middagete in. Vir meer inligting asook bankbesonderhede kan u ’n navraag stuur na agief@kaapkerk.co.za. Vind ook die program hier.

Daar is ook twee boekbekendstellings van die NG Kerk wat plaasvind op 1 November 2024. Die eerste boek handel oor Die werksaamhede van die NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode van Wes-Kaapland) 1824-2024, en die tweede een oor Tweehonderd genadejare 1824-2024.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap