Die eerste Algemene Kerkvergadering het van 2 tot 18 November 1824 in Kaapstad sitting geneem. Op 3 November 2024 herdenk die Hervormde Kerk en die NG Kerk twee eeue van selfstandige kerkwees in Afrika, onafhanklik van ’n moederkerk in Nederland. Die gesamentlike herdenking is ’n kragtige getuienis van die geloofsband wat tussen dié twee Kerke bestaan.
In 1824 het ds Meent Borcherds van Gemeente Stellenbosch die eerste Algemene Kerkvergadering in Kaapstad geopen, met Handelinge 26: 22-23 as teksvers vir die prediking:
Omdat God my tot vandag toe bewaar het, staan ek hier as sy getuie voor klein en groot. Ek verkondig maar net waarvan die profete en Moses gepraat het: Die Christus moes ly en die eerste wees wat uit die dood opstaan. Daardeur sou Hy aan die Jode en aan die heidennasies die lig bring. (Hand 26: 22-23)
In die teksgedeelte verwys die apostel Paulus na God se sorg in die verlede, sy roeping in die hede om die evangelie van Jesus Christus te verkondig, en die hoop en lig wat dit vir die nasies bring.
Verlede, hede en toekoms…
Met die 200-jarige herdenking van die eerste sinodale vergadering wat in Suider-Afrika plaasgevind het, gaan dit nie net oor die verlede nie, maar ook oor ons roeping in die hede en die hoop waarmee ons die toekoms tegemoet gaan.
Die herdenking bied aan ons die geleentheid om met dankbaarheid te onthou dat Godself die kerk bewaar, vermeerder en laat groei. Ons onthou duisende ampsdraers en lidmate wat oor die laaste 200 jaar hul lewens in diens van God se koninkryk gestel het. Ons is dankbaar vir hul gawes, geloof en toewyding. Só het God dit beskik dat die evangelie van Jesus Christus oor die Afrika-kontinent versprei. Die genade, liefde en barmhartigheid wat God aan mense bewys, is met woord en daad verkondig.
Tegelykertyd is dit ook ’n geleentheid vir introspeksie, berou en verootmoediging. Ons moet bely dat kerklike verdeeldheid en hooghartige optrede teenoor medegelowiges en mense in hierdie land God se liefde verduister het. Ons het nou die geleentheid om eenheid in die gereformeerde kerkfamilie te versterk en uit te bou. Die tyd vir kerkherstel het aangebreek. Herstel dui op ’n organiese proses; op ’n liggaam wat genees en herstel tot nuwe lewe.
Die evangelie van Jesus Christus bring herstel, heling en hoop. Ons kyk nie net met dankbaarheid terug nie, ons leef met hoop vir die toekoms. Ons glo en bely dat Jesus Christus die hoop vir die wêreld is, ook vir Suid-Afrika. Ons kyk ook verder as hier en nou. Hoop gaan nie net om vooruitgang en ’n beter lewe nie.
Die herdenking van die eerste Algemene Kerkvergadering van 1824 is goed op dreef. Twee publikasies is gereed om na die drukkers te gaan, en sal beskikbaar wees teen Hervormingsondag 2024. Die een publikasie vertel die verhaal van die Hervormde Kerk, vanaf 1824 tot 2024, en is deur prof Wim Dreyer geskryf. Die boek volg die kronkelgang van die Kerk deur die loop van twee eeue, aan die hand van bepaalde temas en gebeure, asook belangrike besluite wat die Algemene Kerkvergadering geneem het. Dit sluit foto’s in, asook ’n kort biografiese skets van elke voorsitter van die Algemene Kerkvergadering vanaf 1824 tot 2024.
Die tweede publikasie is saamgestel deur dr Andrew Kok, argivaris van die NG Kerk. Dit bevat ’n ryke versameling van illustrasies, foto’s en beskrywings van interessante persone, gebeure en besluite van die Kaapse Sinode vanaf 1824 tot 2024.
Gemeentes is versoek om moeite te doen om op Hervormingsondag (27 Oktober 2024) te fokus op die erfgoed van die Kerkhervorming, maar spesifiek op hoe dit in die Suid-Afrikaanse konteks gestalte gevind het. Sommige gemeentes en ringe het reeds begin met beplanning, om gesamentlike eredienste en gespreksgeleenthede te hou. Gemeentes kan ook oorweeg om tydens Bybelstudie weer aandag te gee aan die belangrike reformatoriese beginsels.
Twee konferensies word ook gehou – een in Stellenbosch en een in Pretoria. Die konferensie in Pretoria vind op 5 en 6 November by die Hervormde Kerk Pretoria-Oos plaas, en almal is welkom om dit by te woon.
Die hoogtepunt van die herdenkingsfees is op 3 November, met twee eredienste wat in Kaapstad en Pretoria plaasvind. Die oggenddiens in Kaapstad word deur ds Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk, gelei. Die erediens in Pretoria word deur prof Wim Dreyer, voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, gelei. Dit vind in die kerkgebou van die Hervormde Kerk Pretoria-Oos plaas. Die erediens sal in die middag plaasvind, sodat predikante en lidmate van ander gemeentes dit ook kan bywoon. Beide dienste sal ook uitgesaai word.
Die herdenking van 200-jaar-kerkwees in Suid-Afrika is ’n besonderse geleentheid om weer te onthou watter enorme bydrae reformatoriese kerke in die ontwikkeling van Suid-Afrika gespeel het. Meer nog: Dit is ’n besonderse geleentheid om te onthou dat die Here ons gebruik het, en steeds gebruik, om die evangelie van Jesus Christus in Afrika te verkondig.
Ons is immers die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika…
(Prof Wim Dreyer is voorsitter van die Kommissie van die AKV)