Geagte Redaksie
Dr Sanrie de Beer se artikel oor kinders en Nagmaal in Die Hervormer van Mei 2022 verwys.
Dr De Beer verduidelik nie wat sy bedoel as sy sê “kinders” nie en skeer almal, van pasgebore tot pasgetroud, oor dieselfde kam. Watter ouderdom sy ook al nomineer, sy sal in gedagte moet hou dat ’n kind wat nog nie weet wat sonde is nie, nie Nagmaal kan gebruik as simbole van ’n verlore mensdom se verlossing van die straf op hul sonde nie. As mense die Nagmaal begin gebruik verwyderd van die erns daarvan (asof die simbole – wyn en brood – wel die liggaam van Christus is), vervaardig die Kerk in een besluit nog ’n Kersvader vir Christus se geboorte of ’n paashaas vir Christus se opstanding.
Die Kerk kan redeneer oor die ouderdom van aanneming maar, ongeag watter bevoegde ouderdom vir ’n kind om Nagmaal te kan gebruik, wat dr De Beer ook al bepaal, sy sal noodwendig presies dieselfde argumente moet gebruik wat die Kerk tans vir die norm van “Nagmaal nadat ’n kind aangeneem is” gebruik.
Johan Dreyer