Verspreiding van volledige Bybels deur die Wêreldbond van Bybelgenootskappe (WBG) het in 2021 die 32,6 miljoen kerf verbygesteek. Die syfer is ’n bewys van Bybelgenootskappe se toewyding om, te midde van die wêreldwye pandemie, die hoop van God se Woord aan mense te voorsien.

Ondanks uitdagings met personeel, onderbrekings in die aanvoerketting en voortslepende inperkings, het Bybelgenootskappe voortgegaan om die enorme behoefte aan Bybels en Bybelgedeeltes aan te vul. Volgens die jongste verspreidingsyfers van die WBG het vyf uit sewe streke in 2021 meer volledige Bybels versprei as in 2020. Dit is moontlik gemaak danksy die volgehoue ondersteuning wat Bybelgenootskappe wêreldwyd ontvang het.

’n Verdere 5,1 miljoen Nuwe Testamente en 132 miljoen Bybelgedeeltes of -seleksies is versprei. Dit bring die totaal op 169,8 miljoen Bybels en Bybelgedeeltes wat versprei is. Byna 64% van alle Bybels en Bybelgedeeltes wat in Afrika versprei is, was volledige Bybels, terwyl die syfer in die Amerikas slegs 11% was.

Bybelverspreiding waar Christene in die minderheid is, het verhoog. In Irak, waar minder as 1% van die bevolking Christene is, het Bybelverspreiding meer as verdubbel in die laaste twee jaar. Oesbekistan, Albanië en Laos het ook ’n beduidende styging in verspreiding gehad.

Die WBG bly steeds een van die grootste vertalers en verspreiders van Bybels en Bybelgedeeltes in die wêreld, met ongeveer 70% van die wêreld se volledige Bybelvertalings wat deur Bybelgenootskappe voorsien word.

(Bron: e-Saaier Julie 2022)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap