Ek het besluit om hierdie jaar elke week net een kas, laai of rak uit te sorteer en reg te pak. Ek kom vandag af op al my kersmaakapparaat wat steeds sorgvuldig weggebêre staan jare na ons doen-dit-self-huweliksonthaal.

My gedagtes dwaal ver terug na my beginjaar as pastoriemoeder toe Altha Coetzee ons susters een aand kom vermaak het. Sy het die verskillende persone soos ons kollegas, familie en gemeentelede waarmee ons elke dag kontak het, vergelyk met verskillende kerse!

Die ronde kerse in ons lewens is daardie dames sonder skerp hoeke of punte. Hulle kan net druk of liefhê. Hulle is die moederfigure en almal wil graag in hul teenwoordigheid wees. My kinders noem hulle “lekker-mense”. Hul arms is om hul medesusters, kollegas en vriendinne, altyd vol liefde en belangstelling.

Dan is daar die hoë kerse – ’n mens weet nie eintlik hoekom hulle so hoog moet wees nie. Wil hulle hul lig ver laat skyn, is hulle belangrik in hul eie oë, of wil hulle net graag gesien word? Hulle weet altyd beter en kan altyd dinge vooruit voorspel: Ek weet sommer die projek gaan nie werk nie, want mense sal nie opdaag nie. Moenie eens probeer nie!

Die gewone wit kers met die riffels in ’n gewone ou blaker verteenwoordig die staatmakers onder ons. Hulle is handig en prakties en glad nie opgesmuk nie. Hulle doen enige taak opreg en met oorgawe en jy kan hulle oral gebruik. Moenie bekommer nie Juffrou, ek sal gou al die ouers bel en reël vir ’n koekverkoping. Ons samel daardie geld sommer gou-gou in.

Die drywende kerse dryf oral rond en ’n mens weet nie eintlik waar hulle betrokke is nie. Ons sien hulle by eredienste en skoolfunksies, maar hulle is nooit beskikbaar of betrokke by die beplanning en uitvoering nie.

Die lekkerruik-kers versprei oral waar hulle beweeg ’n aangename geur deur hul “gemaklike geaardheid”. Hulle is altyd positief, opgewek en kan die mees negatiewe suster aktief betrokke kry. Dis sommer net lekker en vrolik as hulle help met ’n funksie of projek.

Die kers met die stukkende lont is daardie een wat jy sukkel om aan die gang te kry. Die lont is altyd onbereikbaar en jy mors maklik ’n pak vuurhoutjies op daardie kers. En as hulle uiteindelik brand, dan moet hulle deurgaans aangemoedig en gekomplimenteer word, anders brand hulle skuins en verkeerd en rig groot skade aan. En moet ook net nie vergeet om hulle agterna te bedank nie!

Die gebreekte kers is altyd vol kwale – eintlik ipekonders – hulle het ’n rug, of ’n nek, of ’n kop! Ons ken hulle almal. Hulle kan nie ’n bord eetgoed maak nie – ook nie ’n item vir die tombolatafel gee nie; hulle het regtig nie tyd nie, hulle sal volgende keer help – maar uiteindelik help hulle nooit!

Dan is daar die kers sonder die lont: Ek is uit my man, uit my huis en uit my geld. Ek sukkel my malle verstand af. Ek het genoeg gehad, moet my asseblief niks vra nie. Ek het my kant gebring. Iemand anders kan nou maar die werk doen. Los my net uit!

Die krom kers in die borrelbadhouer: Hulle is altyd beskikbaar. By al hul take en verantwoordelikhede kan jy altyd op hulle staatmaak. Hulle is eintlik krom van al die “ja” sê. Dis reg! Ek doen dit enige tyd met liefde vir jou! Dankie tog, vir sulke mense wat ek ken!

Die verjaardagkoek-kersies beweeg eintlik net in groepies. Hulle wil nie graag saam met ander werk nie. Ons werk graag saam, want óns verstaan mekaar! Of: Ek sal net kom help as Sarie ook daar is.

Die piramiedekerse is vuur en vlam, het ’n groot mond en belowe ons sal dit en dat doen, maar ag, met verloop van tyd verflou hulle heeltemal.

Die snuiter is in elke gemeenskap, elke werkplek en elke gemeente. Hulle is net daar om die vlammetjie van enige aktiwiteit te blus. Hoe meer ywerig en entoesiasties ’n klomp susters is, hoe gouer vlieg hulle op met die volgende: Vergeet dit, ons het dit in Pofadder, Koffiefontein of Vaalwater gedoen en dit was ’n totale flop! Dit gaan nie werk nie. En “tjoef” kap hulle die vlammetjie dood! Ai tog!

Daar word ’n mooi storie vertel van die Engelse skrywer Robert Louis Stevenson. As kind het hy een aand voor die venster gestaan en kyk hoe ’n man die outydse gaslampe in hul straat aansteek. Kyk daar buite, het klein Robert opgewonde vir sy ma gesê. Daar is ’n man besig om gate in die donker te maak!

Ons kan vandag onsself afvra: Is ek ’n bedompige mens en is ek net deel van die donker duisternis? Of help ek mense om lewens met baie groot gate in die donkerte te hê? Is ek soos ’n son wat met warmte en opregte liefde skyn, soos ’n kers wat mense sal aantrek omdat ons volgens ons Vader se riglyne leef en werklik ligdraers vir Hom is?

Daar is geen beter tyd as nou nie om ligdraer vir God te wees. Watter heerlike uitdaging om – te midde van al die onrus, geweld, droogte, oorstromings, oorlog, beurtkrag, ekonomiese onsekerhede, munisipale oneffektiwiteit  – met die wapens van Christus se liefde, gate in die heersende donkerte te maak! Dit impliseer ’n lewe wat Jesus Christus weerspieël. Woorde en dade, wat ten spyte van menslike emosies soos vrees, woede en seer, te alle tye die beeld van God uitdra.

Mag elkeen van ons se kersies helder skyn!

Sekretaris van die NHSV Hoofbestuur en predikantsvrou in Gemeente Marble Hall

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)