Lewe die Liefde … die tema van die NHSV die afgelope 18 maande. Ek wil begin deur te vra: Wat is Liefde?

Ek haal die volgende aan uit ds Pieter le Roux se preek van Sondag 23 Mei 2021: Liefde is die liefde van God. God is Liefde. Hy is die bron van Liefde. Hy gee Liefde. Hy wek in ons Liefde, en ons moet in daardie Liefde bly! Die liefdesgebod is daarom ook liefde vir God, liefde in myself en liefde vir my naaste. Bly daarby … nie met allerlei vals begeertes nie, nie met allerlei vals indrukke of vals motiewe nie. Die Liefde van God moet die dryfveer in my lewe wees. Bly in die Liefde van God.

Ons is so geneig om 1 Korintiërs 13 net op die huwelik tussen twee persone van toepassing te maak, maar die liefde waarvan daar geskryf is, geld vir elkeen van ons. Wat daarin vervat is, moet deur almal van ons toegepas word, elke dag van ons lewens.

Barbara Johnson sê in haar boek Nuwe veerkrag vir fultose ma’s die volgende: Liefde is nie liefde voor jy dit gegee het nie. Dis die een ding waarmee ons spandabelrig kan wees. Hoe meer jy daarvan gebruik, hoe groter word die geskenk. Gee dit weg! Maak jou sakke leeg! Môre sal jy meer hê as ooit!

In die boek So ’n bekkie moet jêm kry deur Nita Eberlin, is vir kinders gevra wat Liefde is. Hier is ’n paar van die antwoorde wat ons as volwassenes verstom sal laat oor die opmerksaamheid en opvattings van kinders oor die liefde:

  • Liefde is dit wat jou laat glimlag al is jy baie moeg.
  • Toe my ouma artritis kry, kon sy nie meer vooroor buk om haar toonnaels te verf nie. Nou verf my oupa haar toonnaels, al het hy self ook artritis. Dis Liefde!
  • Liefde is wanneer Mamma vir Pappa die lekkerste stukkie hoender gee.
  • Liefde is soos ’n klein ou tantetjie en ’n klein ou oompie wat nog altyd vriende is en van mekaar hou, al ken hulle mekaar al so lank en goed.
  • Liefde is wanneer Mamma vir Pappa vuil en sweterig sien en steeds sê dat hy vir haar aantrekliker is as Robert Redford.

En spottend:

  • Ek weet my ouer suster is lief vir my, want sy gee vir my al haar ou klere, en dan moet sy nuwes gaan koop.
  • Ek laat my ouer suster toe om op my te pik, want Mamma sê sy doen dit uit pure liefde. Nou pik ek weer op my babasussie, omdat ek ook lief is vir haar.

Liefde is:         

  • traag om te wantrou, vinnig om te vertrou;
  • traag om te veroordeel, vinnig om vry te spreek;
  • traag om te beledig, vinnig om te verdedig;
  • traag om te berispe, vinnig om te verdra;
  • traag om te verkleineer, vinnig om te waardeer;
  • traag om te eis, vinnig om te gee;
  • traag om aan te hits, vinnig om vrede te maak;
  • traag om te verhinder, vinnig om te help; en
  • traag om kwalik te neem, vinnig om te vergewe.

As ons die Liefde besit, het ons die volgende gawes:

  1. Die gawe om te luister. Dis nie altyd nodig om raad te gee nie, soms is net ’n gewillige oor nodig om ’n las ligter te maak.
  2. Die gawe van toegeneentheid.
  3. Die gawe van ’n glimlag en om saam met ander te lag. ’n Glimlag is soos ’n lig in die venster van jou gesig om te wys dat jou hart tuis is.
  4. Die gawe van ’n handgeskrewe briefie of kaartjie.
  5. Die gawe van ’n guns, veral as dit opoffering verg.
  6. Die gawe van gebed. Daar is geen groter geskenk vir enigeen nie as om te sê dat jy vir hom/haar sal bid – en dit dan ook te doen!

In hierdie moeilike tye met die virus, het ons elkeen aan ons eie lywe gevoel hoe sleg dit was en steeds is, om afstand te beoefen. Daardie broodnodige drukkies, net om te sê: Ek is lief vir jou en mis jou, of ek is só bly om jou te sien. Veral vir ons bejaardes wat in versorgingsoorde is en nie fisiese kontak met hul geliefdes kan hê nie.

Daarom: Lewe die Liefde! Kyk vandag en môre en elke dag waar jy ’n verskil in iemand se lewe kan maak. Al is dit net met ’n glimlag, ’n oproep of ’n kaartjie. Kom ons bid vir mekaar. Laat die Liefde van God die dryfveer in ons lewens wees.

NHSV Streekvoorsitter: Noord-Kaap-streek

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link