Suzanne van Deventer, maatskaplikewerkbestuurder by Rata Maatskaplike Dienste verantwoordelik vir die DPS-pleeghuise, is op 19 Maart vanjaar vereer met Solidariteit Helpende Hand se Hoopdraers-toekenning, saam met twee ander maatskaplike werkers wat diep spore van hoop en positiewe verandering nalaat in die lewens van diegene wat hulle dien.
Suzanne sê: Dit is ’n voorreg om my passie en roeping as maatskaplike werker binne die DPS-huise uit te leef. Maatskaplike werk het nog nooit vir my om status of geld gegaan nie, maar eerder om elke dag daarna te streef om ’n blywende verandering in een persoon se lewe te maak, hetsy dit ’n kind, ’n ouer of ’n kollega is. Dankie aan al my kollegas binne Rata asook die DPS-huise wat my die geleentheid bied om my drome uit te leef.
Rata is baie trots op haar en weet sy sal voortgaan met haar onbaatsugtige diens aan die gemeenskap.