Toe my ma verlede jaar sterf, begin ek met die moeilike taak om haar huis, haar vyf kinders se veilige hawe, op te pak en tot niet te maak. Makliker gesê as gedoen! Met beperkte tyd om alles rustig deur te werk, beland die meeste van daardie kartondose by my adres. ’n Paar weke na die begrafnis sit ek eendag weemoedig tussen die bokse in my sitkamer…
Daar is ’n boks met Ouma se goed in, wat niemand wil weggooi nie, maar wat niemand wil hê nie. Langs hom staan die boks met Pa se ornamente in en sy trofee vir beste vordering in Bronkhorstlaagte se onder 14-rugbyspan. Dan is daar natuurlik Ma se boks (of liewer bokse) met al haar naaldwerkgoed in, sy was mos altyd besig met laslappiewerk, masjienborduurwerk en breiwerk (terwyl ek geseën is met tien duime en boonop links is). Daar is selfs ’n boks met trougeskenke wat Pa en Ma gekry het 60 jaar gelede, telegramme en kaartjies. En natuurlik foto’s van haar vyf telgies se grootwordjare, skoolsertifikate, grootletter sub A-liefdesbriewe vir Ma en Pa van ons vyf af, en selfs ’n tand of twee wat nie deur “Tandemuis” weggedra is nie!
Ons is almal lief vir opgaar en bêre vir ééndag. Aan die begin het jy en jou man net genoeg meubels sodat die huis nie weergalm nie, alles daarvan omtrent geleen of gegee deur die een of ander barmhartige familielid. Uiteindelik maak ons so baie bymekaar dat ons nie anders kan nie as om in ’n vierslaapkamerhuis te woon. (Ek moet nog net dit hê of ek het nog nie presies so iets nie…) Ons almal sukkel met materialisme … wil nog ’n voertuig hê, nog ’n stel borde, ’n kussing vir bo-op die ander een. Ons is so ’n bietjie soos kraaie – alles wat blink, moet nes toe gesleep word.
En net so maak ons soms in ons persoonlike lewens ook verskonings. Ons is altyd besig om bagasie bymekaar te maak: persoonlike vendettas teen ander, ’n mens onthou en hou ’n wrok teen ’n ander persoon, en stadig maar seker stoor ons onnodige “bokse” in ons siele en laat min plek oor vir die mooi goed in ons lewens. Ons maak, sonder dat ons dit agterkom, verskonings eerder as om net lief te hê, taktvol op te tree en die ander wang te draai.
God waarsku ons keer op keer dat dit net kommer en sorge bring; nog méér om te verseker, nog ’n beter alarm om alles te beskerm, iets ekstra om oor te bekommer wanneer ons weggaan op vakansie.
Waar gaan dit stop? Ry jy na ’n asgat toe, sien jy goeters wat eens waardevol was, maar wat mettertyd hul waarde “verloor” het. Dit laat jou jou kop in skaamte sak.
Ek het onlangs ’n mooi spreekwoord gehoor: Belewenisse is belangriker as besittings. En dit laat my dink: Wanneer ek so oor my lewe terugkyk, sal ek eerder wil onthou waar ek was, wat ek gedoen het en saam met wie ek dinge gedoen en beleef het as om te vertel en te spog oor hoeveel ek bymekaar gemaak het.
Maar dit begin by jouself – dit is ’n daadwerklike keuse.
So, kom ons kry ons koppe oop oor die hope goed wat in ons kaste ingedruk word, en in die motorhuis of “ekstra kamer” weggesteek word. Gee weg, maak skoon, pak uit! Verkoop, ruil in, skenk. En begin meer fokus op daardie dinge wat ons saam met ons hartsmense kan doen. Want om op te gaar, is soos om seewater te drink – hoe meer jy drink, hoe dorser word jy…
Om weg te gee, tyd te maak vir ander, te vergewe en sonder voorbehoud lief te hê, is die dinge wat ons eie lewens en dié waarmee ons in aanraking kom, vol maak. Wanneer jy op ander om jouself begin fokus, raak jou lewe vol met die dinge wat régtig saak maak. Dit gee ons energie en lewensvreugde, en dit laat jou tevrede voel om tog ’n verskil te kan maak in die verhoudings met mense om jou.
Die Here sê vir ons in Matteus 6: 19-21: Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.
Ons is maar net tydelik hier op aarde. Al die dinge wat ons so graag wil hê en wat ons oë laat blink, flits in ’n oomblik verby. Waar lê ons harte, ons drome en ons begeertes?
Onthou: Belewenisse is belangriker as besittings … en skatte in die hemel word nie deur mot en roes verniel nie!
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
Sekretaris NHSV Hoofbestuur