Genesis 1: 1-2
In Genesis 1 lees ons hoe die Gees van God soos ’n wind oor die waters sweef. Hierdie beeld is kragtig: voordat daar vorm, orde of lewe was, was daar reeds die asem van God wat nuwe moontlikhede oopwaai. Ons word herinner daaraan dat hierdie Wind nie beheerbaar of voorspelbaar is nie – dit is die kreatiewe energie wat chaos in skepping omskep. Dit beteken dat elke nuwe begin, selfs in ons verwarde lewens, gedra word deur dieselfde Wind van God. Ons word uitgedaag om God te erken en herken as skeppende kreatiewe krag.
Van Genesis tot Openbaring loop daar ’n goue draad: God se Gees as asem en wind. In Hebreeus word dit ruach genoem, in Grieks: pneuma. Albei wys op dieselfde misterie – die onsienlike teenwoordigheid van God wat lewe laat opstaan en nuwe moontlikhede oopblaas.
Jesus sluit hierby aan in sy gesprek met Nikodemus (Johannes 3). Hy sê: Die wind waai waar hy wil… so is dit ook met elkeen wat uit die Gees gebore is. NT Wright verduidelik dat Jesus ons uitnooi in ’n nuwe manier van lewe waar ons onsself oopstel vir die verrassende, lewensgewende beweging van God se Gees. Om van bo gebore te wees, beteken nie net ’n nuwe identiteit nie, maar ’n nuwe deelname aan God se voortdurende skeppingswerk.
Die Ewige Wind herinner ons: jy is nie vasgevang in jou verlede of jou eie kragte nie. Soos die skepping uit chaos gebore is, en soos Nikodemus ’n nuwe begin aangebied is, word jy vandag genooi om jou seile oop te maak en die Ewige Wind jou koers te laat bepaal.
Gebed
Here, laat u Ewige Wind oor my lewe waai. Maak my oop vir u nuwe skepping, en leer my om my koers in u Gees te vind. Amen.
Ds Johnny Young, Rustenburg Tuine