Matteus 21: 1-11

Wanneer ons die Bybel lees word ons op soveel verskillende plekke bewus van die groot vreugde en opwinding wat die dissipels en ander gelowiges gehad het terwyl hulle daar naby aan Jesus beweeg, geleef en bestaan het. Natuurlik sal daar vreugde, genot, plesier en opwinding by Jesus wees, want dit is daar by Hom waar daar wonderwerke verrig word en ongelooflike woorde gepreek word en waar God se koninkryk tasbaar en sigbaar gemaak word. In ander woorde, daar was vreugde naby aan Jesus.

Dit lees ons baie duidelik in die teks in Matteus 21 met Jesus se intog in Jerusalem. Toe die donkie deur die dissipels gaan haal en vir Jesus gebring word, is hulle so opgewonde en vol blydskap dat hulle sommer self vir Jesus op die rug van die donkie help. Hulle kan nie wag vir die prosessie, die intog in Jerusalem, om te begin nie. Daar is liedere wat gesing word en danse wat gedans word en palmtakke wat gewaai word. Ja, daar is opwinding by Jesus. Daar is vreugde in Jesus.

Hierdie vreugde is ’n tydelike vreugde, dit is ’n vreugde wat menslik is. Hulle vreugde gaan meer oor die omstandigheid as oor Jesus. Dit gaan oor die oomblik en nie oor die Here nie.

Ons kan dit waag om dit ’n tydelike vreugde te noem, want hierdie selfde vreugde word egter ’n paar oomblik later heeltemal vergeet. Almal wat om Jesus gesing en gedans en gewaai het, vergeet heeltemal van hul vreugde en opwinding toe Jesus gearresteer en veroordeel en gespot en gekruisig word. Ons lees dat al die dissipels weggehardloop en gevlug het toe Jesus na die kruis gelei word. Hul vreugde het verdwyn. Hulle het van die dansende en singende vreugde vergeet.

Vandag, lees ons die Bybel Christologies, met Christus in die middel. Ons weet wat op die kruis gebeur het, en van die opstanding na die kruisdood. Ons vreugde vandag is in die opgestane Here. Ons vreugde vandag is Jesus Christus die gekruisigde en opgestane Here. Na Hom smag ons!

Ds André Steinmann, Piet Potgieter