1 Petrus 1: 3-9
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop… (1 Pet 1: 3)
Die wêreld bied soveel tydelike hoop – van rykdom tot roem, maar alles vergaan. Petrus wys egter vir ons op ’n ander soort hoop: ’n lewende hoop. En die bron van dié hoop is nie in ons omstandighede of prestasies nie, maar in Jesus se opstanding.
Omdat Jesus leef, is ons ook lewend – nou én eendag in die ewige koninkryk. Hierdie waarheid anker ons geloof en rig ons denke daagliks. Wedergeboorte en geloof is die werk van God, en nie iets wat uit onsself kom nie. Die opstanding is die bewys dat God dit volbring het – ons het nou ’n nuwe identiteit in Christus.
As gelowiges kan ons saam in hierdie hoop groei. Wanneer daar spanning, vrees, of twyfel is, moet ons mekaar daaraan herinner dat ons ’n lewende hoop het. Ons kinders, jonk en oud, het nodig om te hoor dat Jesus nie net in die verlede gesterf het nie, maar dat Hy nóú leef – en tussen ons wandel en in ons werk deur die krag van die Heilige Gees. Ja, dieselfde krag wat Jesus uit die dood laat opstaan het.
Laat hierdie hoop sigbaar word in jou lewe – in gebede, in gesprekke, in hoe jy ander liefhet en vergewe. Laat dit jou vervul met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.
Wat maak jou soms moedeloos? Hoe help dit jou om te weet dat Jesus se opstanding jou nou al nuwe lewe gee?
Gebed
Here, dankie vir die lewende hoop wat ons het omdat Jesus leef. Laat dit my hart versterk, en help my om elke dag in u waarheid te wandel. Amen.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos