Psalm 19: 2-7

Ons het al oor die see uitgestaar op ’n helder dag of die sonsondergang deur die Wildtuin se bome aanskou. Of een of ander natuurramp- of verskynsel wat ’n indruk op ons gemaak het. Laat dit ons anders oor God dink? En indien wel, hoe? Daar is verskeie maniere hoe ’n mens grootheid kan meet. Hoogte, breedte, lengte, afstand, gewig, ensovoorts. Maar al hierdie eenhede – kilogramme, tonne, kilometers, ligjare – kan ’n mens ook net so ver bring. Die meetbare heelal vertel vir ons iets oor die ONMEETBARE Skepper God wat alles gemaak het!

Soos wat die son se lig elke dag elke deeltjie van die aarde verlig, soos wat die reëndruppels die aarde natmaak en die maan se strale die nag verlig so word die boodskap van God se grootheid verkondig – niks ontkom aan sy gloed nie! Dag en nag, jaar vir jaar, eeu vir eeu vertel die hele skepping tot in elke uithoek van die heelal dieselfde verhaal: God is onmeetbaar groot en almagtig.

Maar hoekom vergeet ons dit dan so gou? Ek dink dit is omdat ons meeste van die tyd so besig is met al die dinge van die lewe dat ons oë selde oop is om God se grootheid raak te sien. Dat ons so besig is met ons eie goed dat ons vir God miskyk. Dis dan wat ons snaakse en verkeerde dinge aanvang en vergeet van sy genade en sy sorg en sy goedheid en grootheid. Dit is dan wanneer ons vergeet hoe totaal en al afhanklik ons van Hom is. Ons moet in die gewoonte kom om gereeld stil te staan en regtig om ons rond te kyk en weer God se grootheid te beleef. Dis altyd daar, oral.

Gebed

Here, gee asseblief dat ons elke dag U grootheid rondom ons sal raaksien. Amen.

Ds Liza Jansen, Witbank-Suid