Genesis 1: 1-31
God word bely as die Skepper van hemel en aarde, en hoe ons hierdie verstaan, het ’n invloed op hoe ons ons verhouding tot die skepping verstaan. Genesis 1 vertel hoedat God ’n vormlose en onbewoonde aarde neem (Gen 1: 2) en omskep in ’n skepping gevul met lewe en potensiaal. Maar God werk nie alleen in hierdie skepping nie (Gen 1: 3-31). Reg deur Genesis 1 is daar oomblikke wat God die voortgaande skeppingsproses delegeer na skepsels wat God maak. Plante word geskape met saad in hulle vrug wat weer volgende plante sal voortbring (Gen 1: 11). Die vis in die see, voëls in die lug, en die krioelende diere word geseën deur God sodat hulle kan floreer in God se skepping en meer word. In Genesis 1: 27 lees ons hoe God die mens geskape het. Buiten vir die woorde wat hier gebruik word, is die struktuur van hierdie vers uiters belangrik. Dit is Hebreeuse poësie wat ons hier vind. Daar is sommige woorde wat op sekere plekke voorkom, maar die kan nie altyd oorgedra word in vertalings nie. ’n Meer direkte vertaling lees: 27a En God het geskape die mens as beeld van God, 25b as beeld van God het God gemaak vir hulle, 27c manlik en vroulik het God gemaak vir hulle. In elke reël van hierdie poëtiese vers is daar drie elemente. God is elke keer die een wat maak of skep, die mens en vir hulle is gelyk aan mekaar. En dan word daar twee keer gesê die mens is geskape as die beeld van God en in die laaste deel van die vers (Gen 1: 27c) word beeld van God vervang met manlik en vroulik. Gevolglik is manlik en vroulik gelyk aan beeld van God. God skep ’n skepping waar lewe kan floreer, en as beeld van God is dit ons taak om ook met die skepping so om te gaan dat lewe kan floreer, nie om die skepping te domineer of te onderwerp nie.
Mag ons o God ons beeldskap so uitleef dat alle lewe kan floreer in u skepping.
Dr Robert J van Niekerk, Universiteit van Pretoria